|

AfriForum nader MRK oor rou riool wat maande lank in Potch-komplekse vloei

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het Dinsdag ’n klag teen die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) gelê oor die rou riool wat al vir bykans drie maande in woonkomplekse in Balliepark insyfer. Die burgerregteorganisasie het verlede maand die munisipaliteit versoek om aandag te gee aan die gruwelike rioolstorting in Paryslaan en ander dele van die dorp, maar dit blyk dat dié versoek op dowe ore geval het.

Die rioolprobleme in Paryslaan kom sedert Oktober, toe riool by mangate uitgeborrel en selfs in die aanliggende woonkomplekse ingesyfer het. Dit was in ’n stadium so erg dat daar selfs huise deur die riool oorstroom is. Hoewel die riool nou deels begin opdroog het, hang die stank steeds daar.

Sedert die probleem kop uitgesteek het, het die munisipaliteit verskeie verskonings oor waarom die pype nie vervang is nie. Gisteroggend is die toerusting wat nodig is om die herstelwerk te doen van die toneel verwyder nadat dit bykans deur kwaaddoeners gesteel is. Nou moet sekuriteit eers gereël word voordat enige herstelwerk gedoen kan word. Intussen vergaan die inwoners en selfs die omgewing onder die stank.

“Hierdie haglike situasie dui weereens op die onbevoegdheid en onwilligheid van die munisipaliteit om hierdie probleem dringend die hoof te bied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek. “Regstappe sal oorweeg word indien die munisipaliteit voortgaan om sy pligte teenoor die gemeenskap te verontagsaam.”

AfriForum moedig inwoners aan om ’n klagte by die MRK te lê sodat hierdie kwessie meer gewig kan dra. Besoek www.sahrc.org.za/lodge-complaints om ’n klagte in te dien of raak vandag nog betrokke by Potchefstroom se AfriForum-tak. Kontak vir Leandra Rootman by 073 886 3520 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings