|

AfriForum nader hof om uitspraak oor ongeldige kragtariewe te implementeer

AfriForum sit eerskomende Vrydag 29 November sy stryd teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se onregmatige en ongeldige kragtariefverhogings in minstens 100 munisipaliteite in die hooggeregshof in Pretoria voort. Die burgerregteorganisasie hoop om deur dié proses toe te sien dat ’n uitspraak van die hooggeregshof wat in Junie vanjaar gelewer is én waarop Nersa se appèl intussen ook van die hand gewys is, geïmplementeer word terwyl daar in opdrag van die Hoogste Hof van Appèl op die uitspraak van ’n volbank regters in die hooggeregshof gewag word. Miljoene munisipale kragverbruikers oor die hele land heen ly in hierdie stadium ongekende finansiële skade weens die voortgesette toepassing van dié onregmatige tariefverhogings.

Nersa en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga) het in September na die Hoogste Hof van Appèl gepetisioneer om die hooggeregshofbeslissing om te keer. Op 21 November het die Hoogste Hof van Appèl ’n bevel verleen dat die aansoek toegestaan is, maar deur ’n volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

AfriForum wend hom egter nou in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 na die hooggeregshof om in die belang van kragverbruikers op te tree en toe te sien dat dieselfde hof se beslissing so gou moontlik geïmplementeer word. Aangesien die implementering van beslissings dikwels uitgestel word hangende die uitkoms van ’n appèlproses, doen AfriForum spesifiek aansoek om die implementering van die uitspraak vir die tussentyd toe te staan. Artikel 18(3) bepaal dat beslissings geïmplementeer kan word indien daar bewys kan word dat die betrokke partye “onherstelbare skade sal ly” indien dit nie gedoen word nie. AfriForum is oortuig dat die skade wat verbruikers reeds sedert die implementering van die nuwe kragtariewe ly, wel voldoende is om die toepassing van die hooggeregshof se beslissing te regverdig en te noodsaak.

Dié stappe volg nadat die hooggeregshof in Junie vanjaar in AfriForum se guns beslis het en bevestig het dat Nersa se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Die inhandiging van kostestudies ’n vereiste komponent van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings wat deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf word. Kostestudies is van kritieke belang omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou.

Munisipale kragtariefverhogings is egter op 1 Julie vanjaar landwyd by nagenoeg 180 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders geïmplementeer, ten spyte daarvan dat slegs sowat 70 verspreiders kostestudies gedoen het.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is dit noodsaaklik dat die bevel in hierdie geval geïmplementeer word aangesien verbruikers potensieel onherstelbare skade ly in die tyd wat daar op die volbank regters se uitspraak gewag word. “Dit kan nog maande neem, en vir solank as wat die toepassing van die ongeldige tariewe voortgesit word, neem die impak daarvan by die dag toe. Verbruikers word nou – ten spyte van ’n hofuitspraak wat maande gelede reeds beslis het dat die verhogings onregmatig en ongeldig is – steeds gestraf vir munisipaliteite en Nersa se wanbestuur. Die regstelling van Nersa se fout mag nie langer ten koste van verbruikers uitgerek word nie,” waarsku Mostert.

Mostert waarsku dat die impak op veral verbruikers van voorafbetaalde krag omvangryk is en ’n administratiewe nagmerrie tot gevolg het. “Die vergoeding of kreditering van verbruikers is egter nou noodsaaklik en dringend,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings