AfriForum mik hof toe oor publikasie van matriekuitslae
AfriForum het sy regspan opdrag gegee om vir ’n saak voor te berei om te sorg dat die uitslae van vanjaar se matrikulante op mediaplatforms gepubliseer mag word. Dit volg nadat dit pas aan die lig gekom het dat die Inligtingsreguleerder die openbare bekendmaking daarvan verbied het.
In Januarie 2022 was AfriForum, Maroela Media en ’n matrikulant suksesvol met ’n saak om te verseker dat die matriekuitslae van 2021 in die media bekendgemaak kon word nadat die departement van Basiese Onderwys ’n soortgelyke verbod aangekondig het. Die hof het die departement beveel om met die bekendmaking voort te gaan en selfs ’n kostebevel teen die departement uitgereik.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit in die publiek se belang dat hierdie inligting op openbare platforms gedeel word. “Om dit as ’n skending van individue se reg op privaatheid te bestempel, maak nie sin nie, aangesien slegs eksamennommers in die media verskyn. Die hof het AfriForum en die ander partye tevore gelyk gegee dat dit nie teen enigeen se reg op privaatheid indruis nie,” sê sy.
Die opdrag waaroor die vorige saak gehandel het, het van die departement van Basiese Onderwys gekom, maar hierdie keer is dit van die Inligtingsreguleerder afkomstig. AfriForum is vasberade om weer alles in die stryd te werp om te verseker dat vanjaar se matrieks ook hul uitslae op mediaplatforms sal kan bekom soos wat die gebruik in die verlede was.