AfriForum maan munisipaliteite aan om veldbrandvoorkoming ’n prioriteit te maak

AfriForum moedig munisipaliteite aan om veldbrandvoorkoming en -bestuur te prioritiseer en die nodige begroting en beplanning te doen, aangesien die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika min of geen werkende brandweervoertuie het nie én nie genoegsame personeel het nie.

Dit volg nadat die Kaapstad-metro se brandweer-en-reddingsdienste hul strategieë vir brande dié somer aansienlik verbeter het, asook nuwe toerusting gekry het. Dié nuwe strategieë behels spesiale opleiding aan 96 addisionele brandbestryders oor hoe om veldbrande te bekamp en die gebruik van terrein-reaksievoertuie.

Dié nuwe strategie stuur ’n sterk boodskap van verantwoordelikheid en toewyding tot openbare veiligheid. Hierdie proaktiewe stappe sal beslis bydra tot die veiligheid van inwoners van die Moederstad en die beskerming van natuurlike hulpbronne, wat ’n prioriteit is tydens die veldbrandseisoen.

“Die metro se planne om meer pasgemaakte voertuie beskikbaar te stel, spesifiek ontwerp om veldbrande vinnig en doeltreffend te bestry, is ’n belangrike ontwikkeling. Hierdie voertuie sal noodsaaklik wees om veldbrande in uitdagende terrein vinniger te blus, wat skade tot die minimum sal beperk,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.

Die aanstelling van addisionele brandbestrydingspersoneel maak dit ook moontlik vir die metro om brande meer doeltreffend te blus. Hierdie addisionele hulpbronne verseker dat veldbrandspanne beter toegerus is om nood daadwerklik te hanteer en om baie vinniger op brande te reageer.

Soortgelyke plasings