AfriForum maak verslag oor die wetlike interpretasie van gelykheid bekend
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verslag bekend gemaak oor die wetlike status van gelykheid in Suid-Afrika, asook oor of die land ooit objektief as “getransformeerd” beskou sal kan word. Die verslag is gebaseer op onlangse hofsake oor die hof se toepassing van die gelykheidsbeginsel in die Grondwet.
Baie van die sake in die verslag dui daarop dat die regbank sy taak baie ernstig opneem om die uiteenlopende belange wat ter sprake is in sake van transformasie en gelykheid, deeglik en omsigtig op te weeg. Die verslag noem egter ook dat Suid-Afrika nog nie naastenby ’n punt bereik het waar dit voorkom asof die wetgewende gesag ’n oomblik sal stilstaan om die geldigheid van die kriteria wat in sulke sake gebruik moet word, te heroorweeg nie. Dit is veral sigbaar waar daar sterk inbreuk gemaak word op sommige minderheidsgroepe se reg tot gelykheid, maar dit geregverdig word deur die howe se interpretasie van die beperkings op die reg tot gelykheid.
Die verslag bestaan uit drie dele. Deel I omskryf die geregtelike raamwerk wat die reg tot gelykheid beskerm en die najaag van substantiewe gelykheid dryf. Deel II bevat gevalle, uitsprake en verslae wat betrekking het op onregverdige diskriminasie. Deel III ondersoek die moontlikheid of ons besig is om meer in die rigting van ’n egalitariese samelewing te beweeg.
“Die opvatting oor wat gelykheid beteken het onlangs ’n onderwerp van openbare bespreking begin word, veral omdat die ANC-regering se siening daaroor drasties verskil van hoe die meeste mense dit verstaan. Ons het die laaste paar jaar toenemend gehoor dat daar gepraat word van ‘positiewe diskriminasie’, wat ’n gevaarlike koers en ’n ontstellende begrip is as ’n mens die logiese uiteinde daarvan in ag neem. ’n Goeie voorbeeld hiervan was toe Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, gesê het dit is heeltemal geldig dat COVID-19-hulpfondse volgens ras toegeken word,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte by AfriForum.
“Nuwe ongeregtighede kan nie ongeregtighede van die verlede regstel nie, om die eenvoudige rede dat die hede ’n nare en konsekwente neiging het om weer die verlede te word. Op dié manier word daar weer ’n nuwe generasie van benadeelde mense geskep. Hoekom sal iemand ’n nuwe slaggat grawe om ’n ander een mee te vul? Dit is dus van uiterste belang dat gelykheid goed gedefinieer word en nie deur ideoloë gekaap word nie,” sluit Van Zyl af.
Lees die verslag hier.