|

AfriForum maak Heilbron weer leefbaar met nóg ’n noodwaterpunt en minder vullis

Te midde van die veelvuldige watertoevoerprobleme waarmee Heilbronners mee te make het, het die plaaslike AfriForum-tak die afgelope maand dié dorp meer leefbaar gemaak. Die tak het die gras al om die Uniefeesdam netjies gemaak en die stuk veld langs die Riemland-museum getakel waar daar gereeld vullis onregmatig gestort word. Die tak het ook naby Kerkstraat by ’n oop stuk veld, wat so te sê in ’n vullisterrein omskep is, vullis opgetel en die res van die veld skoongemaak. Die tak het altesaam 13 ton tuin- en huishoudelike vullis in Heilbron bymekaargemaak en daarvan ontslae geraak.

“Dit is betreurenswaardig dat die dorp so met vullis bemors word. In ag genome dat Heilbron se vullisterrein aan slegs 4% van die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen en sonder ’n permit bedryf word, is dit egter geen verrassing dat die res van die dorp ook as ’n vullisterrein gebruik word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek. “Dit is egter belangrik dat die omgewing gerespekteer word sodat elke inwoner en besoeker op die dorp trots kan wees.”

Behalwe vir ’n vullisvrye omgewing het die tak ook gesorg dat ’n tweede noodwaterpunt aan inwoners beskikbaar gestel word. Die nuwe watertenk, met ’n 5 000 liter kapasiteit, is deur Pakworks geborg en by Raubenheimerstraat 89 opgerig. Die inwoners van Heilbron gaan al ’n geruime tyd gebuk onder sogenaamde watervermindering wat voortspruit uit die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se wanbetaling aan Rand Water. Hoewel die watertoevoer in hierdie stadium verbeter het, is die nuwe noodwaterpunt opgerig sou dit weer nodig wees vir inwoners om daarvan gebruik te maak.

“Dit is verblydend dat die watersituasie verbeter, maar AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om die veelvuldige waterlekke op die dorp te herstel. Dit is ook belangrik dat inwoners steeds water spaarsamig gebruik, aangesien dit’n kosbare kommoditeit is,” sê Pretorius.

Raak vandag nog by Heilbron se AfriForum-tak betrokke om die omgewing te help verbeter. Kontak Paul Bergh van hierdie AfriForum-tak by 081 354 3073 of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings