|

AfriForum loof gehalte van eerste Dink of Sink-debatskompetisie by Hoërskool Framesby

Die eerste oosstreeksuitdunrondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het Vrydag, 11 Augustus gesorg vir opwindende junior en senior eindstryde. Dit was die vierde van vyf streeksuitdunne in vanjaar se kompetisie. Hoërskool Framesby was die gasheerskool van die eerste uitdunrondte in hierdie streek. Die uitdunne en nasionale finaal word  deur AfriForum geborg.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het Therese Otto, Francois Smit en Jané Steyn van Hoërskool Framesby Span 1 as wenners uit die stryd getree, met Ané van Wyk, Monya Watermeyer en Karla Muller van Hoërskool Nico Malan Span 1 as naaswenners.

In die senior kategorie was Ilze Hattingh, Zanri Black en Milla van der Merwe van Hoërskool Framesby Span 2 die wenners, met Melody Kukkuk, Delano Schoultz en Leyken Kritzinger van Hoërskool Despatch kort op hulle hakke in die tweede plek.

AfriForum is deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het namens AfriForum dank teenoor al die deelnemers, asook Hoërskool Framesby oorgedra vir hulle bereidwilligheid om die kompetisie ook na die Oos-Kaap uit te brei. 

“Dit is AfriForum se droom dat skole in alle dele van die land uiteindelik aan hierdie kompetisie sal deelneem, juis ook omdat dit soveel sukses behaal daarmee om leerders op hulle voete te laat dink en hulle aan te spoor om op hoogte van aktuele sake te bly. Ons waardeer almal se insette om te verseker dat die kompetisie ’n groot sukses was,” sê Bailey.

“Dit is wonderlik om te sien hoe entoesiasties die leerders is om te debatteer in Afrikaans en debat in die Oos-Kaap uit te brei. Ons sien uit daarna om te beleef hoe die streek se deelname in die toekoms gaan groei en van krag tot krag gaan,” voeg Müller by.

Soortgelyke plasings