AfriForum lewer referaat oor taalregte-aktivisme in Amsterdam
Annelise de Vries, taalbeplanningskoördineerder by die burgerregte-organisasie AfriForum, het vandeesmaand ʼn referaat oor taalregte-aktivisme gelewer tydens die organisasie MIME (Mobility and Inclusion in Multilingual Europe) se kongres oor veeltaligheid by die Universiteit van Amsterdam in Nederland.
Sowat 100 taalkenners van regoor die wêreld het as sprekers by dié kongres opgetree, wat oor die politiek van veeltaligheid en die verskillende uitdagings en moontlikhede wat daarmee gepaard gaan, gehandel het. De Vries was een van drie sprekers uit Afrika, waaronder ʼn spreker uit Kameroen en Marokko.
Haar verslag het spesifiek gefokus op die aanwending van litigasie as ʼn instrument van taalregte-aktivisme met AfriForum as ʼn praktiese gevallestudie.
Sy het aan Forum Nuus gesê dat sy positiewe terugvoer oor haar referaat ontvang het. “Ek was die enigste spreker wat nie aan ʼn tersiêre instansie verbonde is nie, maar wel by ʼn aktivistiese groep. Waar die meeste van die akademici objektiewe navorsing voorgelê het en hoogstens aanbevelings gemaak het, kon ek, vanuit AfriForum se perspektief, sê wat ons presies doen om die probleme wat ons ondervind aan te pak en dit met bestaande navorsing belyn.”
Sy het voorts gesê dat dit baie insiggewend was om te leer oor die taalkwessies en uitdagings wat ander lande ook ervaar. “Tydens ʼn paneelgesprek oor die politiek van veeltaligheid in komplekse stedelike omgewings, het sprekers uit lande soos Spanje en Luxembourg verduidelik dat globale verengelsing nie hul grootste uitdaging rondom taal is nie, maar eerder die huidige immigrantkrisis in Europa.”
Dr. Sumit Mukerji, ʼn politieke wetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Kalyani in Indië, het volgens De Vries gesê dat lande soos Indië ook glo in dieselfde “taalbootjie” as Afrikaans sit omdat daar politieke druk is om Hindi die amptelike taal van Indië te maak. “Kenners soos Mukerji meen een amptelike taal in ʼn land soos Indië, wat byna drie keer die hoeveelheid amptelike tale as Suid-Afrika het, kan nie afgedwing word nie. Hy is van mening dat inwoners dan juis opstandig sal wees en sal weier om daardie spesifieke taal te leer.”
De Vries vertel dat dr. Tomaz Szymczyǹski, ʼn professor in politieke wetenskap en joernalistiek aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Pole, ook belangstelling getoon het in haar aanbieding. Szymczyǹski was ook voorheen betrokke by die vertaling van die Europese Unie se taalbeleid en doen tans navorsing oor die verband tussen taalbeplanning en die ekonomiese groei van Brics-lande.
Sy het ook tydens haar toer met prof. Jacques van Keymeulen, ʼn dosent in Nederlandse taalkunde aan die Universiteit van Gent in België ontmoet. Van Keymeuelen is ook ʼn stigterslid van die Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika en beskryf dié stigting as die toevoeging van waarde tot die groter sigbaarheid van onderwys, navorsing en diens rakende Afrikaans en Suid-Afrika.
Hy glo dat hierdie inisiatief internasionaal weerklank sal vind in en buite Suid-Afrika. Vir Van Keymeuelen is die uiteindelike bedoeling van die Universiteit Gent om internasionaal erkende kundigheid op te bou oor die Afrikaanse taal en letterkunde en die studie van Suid-Afrika.
Volgens De Vries was die deurlopende boodskap van dié kongres dat Engels nie die alfa en omega is nie. “Hierdie kongres het bewys dat baie lande steeds grootliks klem plaas op meertaligheid en die bevordering van inheemse tale, eerder as om die globale tendens van verengelsing te volg.”