|

AfriForum leer Laerskool Marble Hall-leerders die belang van bome plant

AfriForum se Marble Hall-tak het op 9 September twee bome aan Laerskool Marble Hall, as deel van AfriForum se boomplantmaandprojek, geskenk. AfriForum vier jaarliks in September boomplantmaand. In dié maand probeer AfriForum om die Suid-Afrikaanse publiek van die belangrikheid van bome en die plant daarvan bewus gemaak.

AfriForum se tak in Marble Hall het besluit om die  kannabasboom (Dais cotinifolia), ook die boom van die jaar, te plant. In Engels staan die boom as die “pompon tree” bekend. Hierdie tak en die AfriForum se Jeug-tak in Marble Hall het onderskeidelik saam met graad 0 – 3 leerders en graad 4 – 7 leerders kannabasbome geplant.

“Aangesien ons in onsekere tye leef, is dit goed om te weet dat ons die lente, wat dui op ’n nuwe begin, met só ’n projek kan vier. Ons plant vanjaar bome omdat ons moed en goeie hoop vir die toekoms het; ons plant vir die toekoms. Hierdie bome is simbolies van groei,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo. “Ons moedig die publiek aan om bome, as ’n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur, te plant.”

“Suurstof is vir alle lewe op aarde noodsaaklik, en omdat bome suurstof vervaardig, kan die mens vanselfsprekend nie sonder bome oorleef nie. Daarom is dit uiters belangrik om van ’n jong ouderdom die belang van bome en hoekom ons bome moet plant vir kinders te leer,” sê Francois Homan, takvoorsitter vir AfriForum Jeug in Marble Hall.

Raak vandag nog by AfriForum se Marble Hall-tak betrokke: SMS jou naam na 45342 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings