AfriForum-konferensie beklemtoon vernietigende, onregverdigbare aard van SA-regering se rassistiese beleide

Die Suid-Afrikaanse regering se rasgebaseerde beleide, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), is niks meer as ’n rookskerm vir klein elite-bemagtiging en kaderontplooiing nie. Dit is tyd om hierdie diskriminerende beleidsroete te beëindig. Dít het die kern gevorm van die argumente wat vandag op die burgerregteorganisasie AfriForum se konferensie gemaak is waar sprekers in-diepte aanbiedings gelewer het wat gefokus het op die skade wat die regering se rasgebaseerde beleid, soos SEB, aangerig het en steeds doen. Die sprekers het AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, die Vryemarkstigting se beleidshoof, Martin van Staden, en politieke ontleder en skrywer, Phumlani M. Majozi, ingesluit.

In sy voorlegging het Van Staden gestel dat rassewette steeds ‘n realiteit is in Suid-Afrika, wat al vir meer as ’n eeu ’n globale mekka van rasse-wetgewing is. Een van die skokkendste feite wat Van Staden onthul het, was dat meer as 141, of net meer as 50%, van die rasgebaseerde wette wat die Suid-Afrikaanse regering al aangeneem het sedert 1910, vandag steeds aktief is. Hierdie totaal oortref die rassewet totaal op apartheid se hoogtepunt.

Majozi het rasgebaseerde gevallestudies rakende wetgewing van oor die hele wêreld bespreek en gewys op die patroon wat dit deel: Hulle dien almal net om ’n klein elite van dié wat alreeds verryk en polities verbind is verder te verryk. Majozi het beklemtoon dat dit hierdie piepklein elite-groepie, eerder as die armes, is wat protes sou aanteken as rasgebaseerde beleide soos SEB afgeskaf sou word.

Van Zyl het aangevoer dat sonder ’n vaste einddatum vir rassediskriminerende wetgewing gaan die bose kringloop van regeringsmislukking en druk van meer rassediskriminerende beleid voortduur.

Bewyse van hoe vernietigend en verdraaid die Suid-Afrikaanse regering se rasbeleide is, is oral te sien. Verlede week is daar berig dat ’n multi-miljard, multinasionale maatskappy Shell Suid-Afrika kan verlaat nadat hy met ’n SEB-vennoot gebots het, wat $73 miljoen se beleggings en duisende werkgeleenthede in gevaar stel. Nog ’n onlangse voorbeeld is die nuwe rassemandate wat die regering op die eiendomsektor wil afdwing.

“SEB-wetgewing is vernietigend omdat dit werksgeleenthede vernietig en beleggers afskrik. Dit is gevaarlik, want dit beroof mense in landelike gebiede, wat deur misdaad geteister word, van die kans om betroubare internetverbinding deur Starlink te verkry. Laastens is rasgebaseerde beleide verkeerd, want dit sluit mense uit van indiensneming, bevordering en sportspanne, weens hul velkleur,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings