AfriForum kondig driepuntplan aan om Onteieningswet te beveg
AfriForum het vandag ’n driepuntplan aangekondig om die Onteieningswet te beveg. Dié burgerregteorganisasie het ernstige bekommernisse oor dié wet, wat onder meer nul-vergoeding vir eiendom sal moontlik maak, en Suid-Afrika op dieselfde pad as Zimbabwe kan plaas waar soortgelyke wetgewing die ekonomie verwoes het.
As deel van die eerste faset van AfriForum se plan is ’n beroep reeds aan Dean Macpherson, minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, gerig om hom te versoek om nie die wet te medeonderteken nie. Die minister se medeondertekening word vereis vir die promulgering van die wet. Macpherson het reeds sy teenkanting teen die wet aan pres. Cyril Ramaphosa bekendgemaak wat laasgenoemde se ondertekening daarvan irrasioneel maak. Indien Macpherson die wet sou medeonderteken, is AfriForum gereed om hom en Ramaphosa op grond van die irrasionaliteit van hul optrede voor die hof te daag.
AfriForum sal tweedens ook die grondwetlikheid van die wet in die hof toets en derdens internasionale steun teen die implementering van die wet werf. Laasgenoemde sal daarop gemik wees om druk op die regering te plaas. Versoeke vir die toepassing van byvoorbeeld sanksies sal nie deel van AfriForum se strategie vorm nie aangesien dit persone, wat reeds deur die wet benadeel sal word, ’n tweede keer sal straf.
“In ander lande waar regerings onsekerheid oor eiendomsreg geskep het, is die ekonomie verwoes en het mense in groot getalle gevlug. In Zimbabwe het hiperinflasie ingetree en nagenoeg 80% van inwoners wat wel werk het, werk nou in die informele sektor,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Kriel sê enigiemand wat eiendom besit, hetsy dit grond of ander vorme van eiendom is, word deur die nuwe wet geraak, aangesien die Onteieningswet die definisie gebruik van “eiendom” soos daarna verwys word in artikel 25 van die Grondwet. In dié artikel word bepaal dat “eiendom nie tot grond beperk is nie”.
Volgens Kriel sal arm mense die hardste deur die implementering van die nuwe wet getref word omdat dit tot onder meer ’n toename in werkloosheid sal lei.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger van Hurter Spies, sê daar is reeds op 15 April verlede jaar ’n brief aan Ramaphosa gestuur om die geleentheid vir die rig van vertoë teen die Onteieningswet te vra, maar dat geen reaksie op die inhoud van dié skrywe ontvang is nie.
“Ons skrywe is nie net geïgnoreer nie, maar die president het stil-stil die wet op 20 Desember onderteken en dit is eers op 24 Januarie in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie optrede getuig van die kwaadwilligheid. Die wet sal drakoniese magte aan elke munisipaliteit in die land gee om te onteien. Gevaarlike mense kan so magte bekom om te onteien,” sê Spies.
Spies sê voorts dat die Grondwet in artikel 25 bepaal dat onteiening onder meer gedoen kan word as daar op ’n prys ooreengekom word óf waar die hof ’n regverdige prys bepaal. Artikel 12(3) van die Onteieningswet is volgens Spies veral kommerwekkend. Dié artikel laat die onteiening van grond teen nul-vergoeding toe op vier gronde, maar is nie beperk tot dié gronde nie.
Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, beskou die vae terminologie in die Onteieningswet en die insluiting van alle vorme van eiendom vir onteiening as van die grootste knelpunte in dié wet.
“Dis uiters kommerwekkend dat ’n regering wat op alle vlakke misluk het en geken word aan korrupsie en rasgedrewe beleide die besluite sal kan neem oor wat om te onteien. Hier word ’n stryd gevoer tussen bose magte en geregtigheid. AfriForum sal mense wat geteiken word, help om hul eiendom in die hof te verdedig.”
Besoek www.onteiening.co.za om jou steun aan AfriForum se veldtog teen die Onteieningswet te gee.