|

AfriForum Jeug dien klag in oor reuse NSFAS-onreëlmatighede

AfriForum Jeug het vandag ’n strafregtelike klag teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion ingedien.

Dié klag kom te midde van ’n ondersoek wat pres. Cyril Ramaphosa in Augustus vanjaar gelas het. Ramaphosa het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) versoek om onder meer bewerings van korrupsie, wanadministrasie, onwettige en onregmatige besteding- en verkrygingspraktyke, onwettige en onregmatige optrede deur werknemers en amptenare asook doelbewuste of nalatige verlies van openbare fonde by die NSFAS te ondersoek.

Dié ondersoek sal die tydperk van 2016 tot Augustus vanjaar dek.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug

Die NSFAS is reeds etlike jare in die spervuur weens beweerde wanpraktyke deur studente wat van die skema gebruik maak sowel as werknemers by die skema. Daarbenewens bevind dié skema van die staat hom in dieselfde posisie as ander staatentiteite soos Eskom, Denel, SAL, Transnet en ander waar wanbestuur, wanbesteding en ’n algehele gebrek aan finansiële oorsig aan die orde van die dag is.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, by die Lyttelton-polisiekantoor.

Wat die SOE-ondersoek betref sal na die optrede van amptenare gekyk word, asook enige onbehoorlike of onwettige optrede deur werknemers, amptenare, diensverskaffers en enige ander persoon of entiteit. Daar sal ook gepoog word om enige geld wat die staat verloor het te verhaal.

Dit is skrikwekkend dat hierdie groot bedrag geld so wanbestee word.

Die NSFAS en die wyse waarop dit bestuur word, is maar een van vele vergrype op die lys van die ANC-regering wat versuim om arm, kwalifiserende studente te help om verder te kan studeer. Daar is egter ook ’n ander kant van dié munt met nagenoeg 35 000 studente wat glo in die afgelope boekjaar die skema mislei het in hul aansoeke om finansiering.

Dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, het vroeër gesê strafregtelike klagtes sal ook teen dié studente ingedien word. Volgens Nzimande is in vanjaar se begroting R43 miljard toegeken vir begunstigde studente. Daar word tans meer as 700 000 deur die NSFAS bygestaan.

Volgens René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, het oudits van 2020/2021 en 2019/2020 ernstige wanbesteding by die NSFAS blootgelê.

Dié wanbesteding beloop nagenoeg R77 miljard.

“Dit is skrikwekkend dat hierdie groot bedrag geld, wat aangewend kon word om vir behoeftige studente die geleentheid te bied om te kan studeer, so wanbestee word. Terwyl dr. Blade Nzimande, die minister van Hoër Onderwys, spog met NSFAS wat tans meer as 700 000 studente finansier, is dit vir AfriForum Jeug onaanvaarbaar dat daar nog duisende ander behoeftige studente is wat nie toegang het tot hierdie openbare fondse nie, omdat dit wanbestee word.”

Soortgelyke plasings