|

AfriForum Jeug bemagtig jong leiers by Toekomsskeppers

28 jong leiers van Noordwes is gister tydens ’n geleentheid in Potchefstroom bemagtig met vaardighede sodat hulle positiewe leiers en rolmodelle vir hulle medeleerders kan wees.

Toekomsskeppers is deur AfriForum Jeug in samewerking met AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling aangebied. Daar is veral gefokus op die tipe leiers wat die leerders wil wees om hulle te help om hul potensiaal te ontsluit en ’n blywende verskil in hul gemeenskappe te maak.

Die hoof- en onderhoofleiers van Koster Gekombineerde Skool, Hoër Volkskool Potchefstroom, Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Wesvalia, asook agt onderwysers van dié skole het hierdie geleentheid bygewoon.

“Die jeug is belangrik en met elk van hierdie sessies belê AfriForum in die land se toekomstige leiers en hul persoonlike ontwikkeling,” sê Yvonne Gerber, beampte vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug.

Hui-Mari Meyer, van WIRED – Flip The Switch, en dr. Chris Lombard, bestuurskonsultant verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool, was die gassprekers en het spesifiek gefokus op verskillende leierskapstyle en die belangrikheid daarvan om jou eie leierskapbenadering te verstaan.

“Toekomsskeppers was ongelooflik lekker. Ons het geleer hoe om beter leiers te wees, dat ons nie moet vrees om te lei nie en mekaar moet aanmoedig,” sê Elizka de Bruyn, gr.11-leerder aan Potchefstroom Gimnasium.

Henré Nel, gr. 11-leerder aan Hoër Volkskool Potchefstroom, het dit beaam en sê dat hy geleer het om net jouself te wees en nie te verander terwille van ander nie.

Meyer het aan die leerders verduidelik dat daar vier hooftipes temperamente en verskeie kombinasies daarvan is, wat elkeen ’n unieke leierskapstyl ondersteun. Haar sessie het die leerders gehelp om hul eie sterkpunte en uitdagings beter te verstaan.

Lombard het hierop voortgebou deur te illustreer wat sterk en swak leierskap in die praktyk behels en praktiese wenke verskaf oor hoe om ’n positiewe leier te wees wat ’n blywende impak maak.

“Ek het by Toekomsskeppers geleer watter tipe leier ek is en om ander te inspireer om die beste weergawe van hulself te wees,” sê Moné Coetzee, gr.11-leerder aan Koster Gekombineerde Skool.

“Dit is belangrik dat matriekleiers verstaan watter tipe leiers hulle is omdat dit hulle sterkpunte en leemtes help identifiseer wat hulle in staat stel om doelgerig te lei. Die onderwerp van die eerste sessie is daarom van groot waarde, aangesien dit die grondslag lê vir toekomstige leer en deelname en leiers help om hul rol en doelwitte duidelik te verstaan. Dit lei weer tot effektiewe besluitneming en maak ’n positiewe impak. Dit is ’n voorreg om met die jeug te werk, want deur jong mense te lei en te vorm, bou ons aan die toekoms van ons gemeenskappe en skep ons ’n positiewe nalatenskap vir die volgende geslag,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

Soortgelyke plasings