AfriForum in die hof oor die onttrekking van “Kill the Boer”-appèlsaak se regter

AfriForum se hofsaak, waarin die onttrekking van waarnemende appèlregter Raylene Keightley, versoek word, het vandag in die Hoogste Hof van Appèl begin. AfriForum se regspan het in 2023 ’n formele versoek gerig aan die registrateur van die Hoogste Hof van Appèl om te vra dat regter Keightley haarself onttrek van die paneel regters wat moet beslis oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se dreunsang van “Kill the Boer”.

AfriForum het dié aansoek gebring nadat dit aan die lig gekom het dat waarnemende appèlregter Keightley sterk menings téén AfriForum gehuldig het in ’n 2018-hofsaak. Een van haar kommentare het aan die hand gedoen dat die organisasie aan “anachronistiese standpunte” vasklou. Tydens daardie saak het Keightley ook te kenne gegee dat, sou sy in die toekoms voorsit op enige saak van AfriForum, die organisasie dit moontlik gepas sou vind om haar onttrekking te versoek.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit betreurenswaardig dat AfriForum ten opsigte van regter Keightley se onttrekking van regsaksie gebruik moes maak. Die organisasie het gehoop dat regter Keightley haarself uit beginsel vrywillig en in die belang van die beskerming van die integriteit van die howe sou onttrek.

“Regters wat die publiek reken duidelike vooroordele het wat hofuitsprake beïnvloed, ondermyn die publiek se vertroue in die land se regstelsel. AfriForum sal doen wat dit verg om te verseker dat die ‘Kill the Boer’-appèlsaak voortgesit word sonder enige regterlike partydigheid,” sluit Kriel af.

Uitspraak in dié saak is voorbehou.

Soortgelyke plasings