|

AfriForum herstel lekkasie waar 150 liter skoon water per uur uitloop

Die AfriForum-tak in Upington het die lekkasie in Jan de Klerk-straat herstel. Dié pyp lek nou al vir meer as vier jaar en hoewel dit al keer op keer aangemeld is, het daar steeds dadels van gekom. Daar is vasgestel dat daar 150 liter skoon, drinkwater per uur by hierdie lekkasie uitgestroom het – dit kom omtrent neer op nagenoeg 5,3 miljoen liter water wat oor die afgelope vier jaar vermors is.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is daar talle lekkasies in Upington wat inwoners warm onder die kraag het. “Die probleem is dat dit skoon, drinkbare water is wat vermors word. Benewens die feit dat die belastingbetaler daarvoor moet opdok, is Suid-Afrika ook ’n waterskaarsland en dit blyk of die munisipaliteite nie ag slaan daarop nie.”

Hierdie water het in ’n stormwaterpyp onder Hoërskool Duineveld deurgeloop na die moeras wat by die Kalahari-winkelsentrum gevorm het. Daar is ook ’n lekkasie by die Kalahari-winkelsentrum waar riool uitloop. Die AfriForum-tak het ondersoek ingestel en aangesien daar te veel water en riool uitvloei kan die pyp nie oop gegrou word sodat herstelwerk kan plaasvind nie – dít bloot omdat die munisipaliteit nie betyds reageer en waterlekkasies herstel nie.

Die tak het ook nóg ’n waterlekkasie herstel naby die Kalahari-winkelsentrum, waar die skoon water in die spruit inloop en vandaar terug in die Oranjerivier in.

Daar gaan na beraming sowat 40% skoon drinkwater jaarliks net in die Dawid Kruiper-munisipaliteit verlore weens dié munisipaliteit se versuim om waterpype in stand te hou en lekkasies te herstel wanneer dit kop uitsteek.  Daar is selfs lekkasies by die opgaardamme, daarbenewens is dié opgaardamme ook in ’n haglike toestand. Sommige opgaardamme kan nie teen hul volle kapasiteit benut word nie aangesien die infrastruktuur te oud en gekraak is.

“Dit is onrusbarend om ’n prys hierop te sit want elke huishouding dok in elk geval ekstra per maand op hiervoor, maar tog is daar ’n water tekort in Upington en omliggende gebiede. Dit is onregverdig teenoor die gemeenskap wat aanhou betaal al is die krane leeg en al laat die munisipaliteit toe dat drinkwater vermors word,” sluit Strauss af.

Die tak bedank graag Orex Plumbing wat saam met Strauss die herstelwerk verrig het.

Soortgelyke plasings