|

AfriForum help om verwoestende veldbrand agter Hoërskool Hartbeespoort te blus

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het op 28 Augustus omstreeks 12:30 die Madibeng-brandweer gehelp om ’n verwoestende veldbrand agter die Hoërskool Hartbeespoort te blus. Die brand het weens sterk winde en droë toestande vinnig versprei. Teen die aand het die vlamme gevaarlik naby die berg beweeg en oor die berg versprei, wat omliggende residensiële gebiede langs die R513 ernstig bedreig het.

Omstreeks 20:00 die aand het die winde erg begin waai, wat die brand verder aangehelp het. Vlamme het tot boomhoogte gestyg en kooltjies het sporadies op die ongebrande veld geval, wat die gevaar van verdere verspreiding verhoog het. Lewens en eiendomme van talle inwoners was in groot gevaar.

Danksy die vinnige en gesamentlike reaksie van AfriForum-taklede in Hartbeespoort, die Madibeng-brandweer en plaaslike boere, is die brand uiteindelik onder beheer gebring. Hul onbaatsugtige en flinke optrede het verseker dat geen eiendomme beskadig is nie, ten spyte van die groot risiko wat die brand ingehou het.

Die brand het egter skade aan ’n kommunikasie- en netwerktoring aan Hartbeespoort se kant van die berg veroorsaak en honderde hektaar grond verwoes. Een persoon het suurstofbehandeling op die toneel gekry.

“Die gemeenskap is dankbaar vir die brandbestryders se onbaatsugtige werk tydens hierdie groot brand. Was dit nie vir hulle nie kon dinge baie erger uitgedraai het. Dis vir AfriForum ’n eer om deel van hierdie brandbestrydingspoging te kon wees,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Soortgelyke plasings