|

AfriForum-gids gee riglyne vir verbruikers oor installering van sonkragtegnologie

Elke Suid-Afrikaner is terdeë bewus van én ervaar eerstehands die nadelige gevolge van disfunksionele Eskom.

Dit is onafwendbaar dat individue, die privaatsektor, beleggers, kundiges en ander rolspelers nou alles in die stryd moet werp om te verseker dat die ligte bly brand én dat hulle vry en onafhanklik van Eskom word.

AfriForum het ook toegetree om hierdie nasionale krisis te pak en die eerste fase van sy Projek AfriEnergie is vandag aangekondig.

As deel van dié fase is ’n verslag oor basiese beginsels vir sonkrag vrygestel wat die gewone man op straat van belangrike inligting en wenke voorsien wanneer dit by die keuse van verskaffers en installering van sonkrag kom.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie kan nie die redder van die land wees nie, maar hy kan ’n fasiliteringsrol speel om rolspelers bymekaar te bring wat oplossings vir die energiekrisis na die tafel kan bring.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Met die verslag wil AfriForum sy lede bemagtig om die regte besluite oor sonkrag te neem en nie onnodig geld te verloor omdat hulle nie kennis oor verskaffers en produkte het nie.

“Dit is vir ons belangrik om mense met kennis te bemagtig wat nie veel van sonkrag weet nie. Daar is nou ’n geweldige aanvraag na sonkrag en as jy nie die nodige kennis het om kostedoeltreffende en ander besluite te neem nie, is hierdie ’n mynveld. AfriForum het ’n belangrike rol om kliënte en betroubare verskaffers en installeerders bymekaar te bring,” sê Johan Kruger, hoof van Gemeenskapselfstandigheid.

Johan Kruger, hoof van Gemeenskapselfstandigheid

Benewens die gids wat beskikbaar is by www.afrienergie.co.za kan verbruikers ook gaan kyk na ’n lys van geakkrediteerde verskaffers en installeerders op die webblad.

AfriForum is ook betrokke by prosesse met Nersa oor die deregulering van krag sodat mense wat surplus sonkrag-elektrisiteit opwek uiteindelik vergoed kan word as hulle dit in die netwerk terugstoot.

Fase 2 van die plan is daarop gemik om die privaatsektor en gemeenskappe bymekaar te bring ten einde plaaslike oplossings te kry vir swak dienslewering deur munisipaliteite. Munisipale rade skuld Eskom reeds meer as R60 miljard. Verbruikers sal meer voordeel trek uit ’n model waar privaatmaatskappye elektrisiteit in dorpe bestuur. Hulle kan dan die infrastruktuur in stand hou, die nodige invorderings doen en gelde aan die munisipaliteite en Eskom oorbetaal. Een so suksesvolle model word reeds in die Mafube-distrik gebruik waar Rural Free State die elektrisiteit in Frankfort, Villiers, Theunissen en Cornelia bestuur. Die maatskappy het ’n 25 jaar kontrak beding en dié dorpe kan waarskynlik van die eerstes wees wat beurtkrag vry sal wees gegewe verdere ontwikkelings wat in die pyplyn is.

Fase 3, wat op die langtermyn gemik is, behels ondersoeke na en navorsing oor die gebruik van veilige kernenergietegnologie wat in Europa reeds as groenkrag geag word. Voordat dit egter ’n realiteit kan word, moet verskeie struikelblokke, waaronder wetgewing en regulatoriese maatreëls eers oorkom word.

Soortgelyke plasings