AfriForum gereed vir Bela-optog om “grootste uitdaging vir Afrikaanse kultuurgemeenskappe sedert 1994” teen te staan
AfriForum en meer as 40 ander organisasies het vandag hulle gereedheid vir deelname aan die protesoptog teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (die Bela-wet) bevestig. Die optogprogram sal môre vanaf 09:00 by die Voortrekkermonument in Pretoria ’n aanvang neem. Die organisasie se verbintenis om die Bela-wet se omstrede artikels teen te staan, is vanoggend tydens ’n mediakonferensie in Centurion herbevestig.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, skep die huidige formaat van die wet se bepalings oor openbare skole se toelatings- en taalbeleide die “grootste enkele uitdaging vir Afrikaanse kultuurgemeenskappe sedert 1994”. Hy het die teenstand teen hierdie bepalings, waarmee AfriForum sedert 2017 deurlopend besig is, beskryf as die grootste en belangrikste stryd waarby AfriForum in dié organisasie se 18-jarige bestaan betrokke is.
Kriel noem dat hierdie saak gaan oor die oorlewing van Afrikaanse kultuurgemeenskappe, omdat Afrikaanse skole ’n sentrale rol binne hierdie gemeenskappe speel. “Ten einde ’n magsbalans te handhaaf en om ter beskerming van Afrikaanse kultuurgemeenskappe se oorlewing op te tree, is sigbare protes nodig, wat verduidelik waarom hierdie protesaksie noodsaaklik is,” benadruk Kriel.
AfriForum sien daarna uit om môre, Dinsdag 5 November 2024, saam met verteenwoordigers van die meer as 40 organisasies en duisende ander individue te stap.
Die optog sal by die Voortrekkermonument in Pretoria begin. Lede van die publiek word aangemoedig om by www.belaprotes.co.za te registreer om ook deel van hierdie belangrike aksie te wees. Alle inligting oor die optog is ook op die registrasieblad beskikbaar.