AfriForum gereed om regsaksie te neem teen beoogde ramptoestand
Die burgerregteorganisasie AfriForum is gereed om die hof te nader op ’n dringende basis, sou die regering besluit om weer ’n ramptoestand in te stel. Volgens berigte in die media oorweeg president Cyril Ramaphosa glo om ’n ramptoestand aan te kondig, as deel van sy regering se aksieplan om beurtkrag te beëindig.
Volgens AfriForum het die regering in die afgelope paar jaar herhaaldelik bewys dat hy nie vertrou kan word met die uitgebreide magte wat ’n ramptoestand aan hom gee nie en gaan hierdie ramptoestand waarskynlik net soos die Covid-19 ramptoestand misbruik word om politici te verryk, onreëlmatige tenders uit te deel en parlementêre oorsig vry te spring.
“Dit wil voorkom of die rampbestuurswet nou die regering se nuwe gunsteling voertuig geword het om korrupte aktiwiteite te vergemaklik en mee uit te voer. Die wet word duidelik misbruik en ’n ‘ramp’ wat deur wanbestuur veroorsaak is, val beslis nie binne die bestek van die wet nie,” sê Ernst van Zyl veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum.
“Die feit dat kragonderbrekings Suid-Afrika nou al vir 14 jaar teister weens die ANC se wanadministrasie, rasbeheptheid, korrupsie en vasklou aan Eskom as krag monopolie, is beslis ’n katastrofe. Juis daarom kan ons nie die regering vertrou met ekstra magte nie, tensy ons ’n tweede ramp wil bylas by die krag krisis,” sluit Van Zyl af.