AfriForum gereed om president te petisioneer ná Nasionale Vergadering BELA aanvaar
Die Nasionale Vergadering (NV) se aanvaarding van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) vandag, was slegs ’n volgende stap in die ANC se meedoënlose stoomrollerproses om die wetsontwerp voor die verkiesing deur te voer. AfriForum en verskeie ander instellings het hierdie verloop van sake voorsien. Die volgende stap is dat die wetsontwerp aan die president vir ondertekening voorgelê sal word. AfriForum se regspan is gereed om die president te versoek om dit ingevolge bepalings van die Grondwet nie te onderteken nie, maar dit weer na die NV terug te verwys.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beklemtoon dat AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp nasionaal en, indien nodig, ook internasionaal met regsaksie teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte-onderrig inhou.
“AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n berekende aanslag op veral enkelmedium- Afrikaanse skole en daarom as ’n poging om kulturele etniese suiwering te pleeg. Die Afrikaanse gemeenskap se kulturele identiteit word bedreig deur hulle taal stelselmatig uit openbare skole te sluit, soos wat reeds met openbare universiteite gebeur het,” sê sy.
“Onderwys oor die algemeen gaan daaronder ly, met die regering wat die finale sê oor toelating sal kry, in plaas van demokraties verkose beheerliggame. Die departement toon reeds in die meerderheid skole in die land dat oorvol klasse en ’n gebrek aan moedertaalonderrig hulle weinig skeel. Programme wat die uitbreiding van die moedertaalaanbod en infrastruktuur beloof, word met groot fanfare aangekondig, maar die departement het óf nie die wil óf die vermoë om dit betekenisvol uit te voer nie. Die oplossing is dat wanfunksionele skole reggeruk moet word en begrotings behoorlik spandeer moet word, en nie om deur taal- en toelatingsbeleide die skole wat ten spyte van die departement se inmenging nog suksesvol is, te benadeel nie.”
“Die land se kinders verdien beter as wat die Departement van Basiese Onderwys tans vir hulle opdis en beslis beter as die bedreiging wat BELA vir hulle inhou. AfriForum se voorbereidings vir regsaksie gaan daarom voort,” sluit Bailey af.
Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksies gee by www.stopbela.co.za.
(Fotobron: GovernmentZA, flickr)