|

AfriForum gereed om IR se dringende aansoek oor matriekuitslae in die hof teen te staan

AfriForum se regspan het ’n skrywe aan die Inligtingsreguleerder (IR) gerig om te bevestig dat dit gereed is om tot regsaksie toe te tree indien die IR ’n dringende aansoek voortsit om die publikasie van 2024 se matriekuitslae te keer. In ’n skrywe aan die IR se regsverteenwoordiger het AfriForum versoek om as mederespondent tot die saak gevoeg te word as die IR op 7 Januarie 2025 met die saak teen die Departement van Basiese Onderwys (DBO) voortgaan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die versoek daarop gegrond dat die hofbevel wat op 18 Januarie 2022 ten gunste van die bekendmaking van matriekuitslae uitgereik is, nagekom word. AfriForum en ander partye het destyds die saak aanhangig gemaak om te verseker dat 2021 se matriekuitslae op openbare platforms gepubliseer kon word.

Die hofbevel het AfriForum gelyk gegee dat die publikasie van eksamennommers sonder name daarby voldoende beskerming van die privaatheid van matrikulante bied, en wel in openbare belang was.

Die afgelope week het die IR nie alleen aangekondig dat dit die DBO vir die voorgenome bekendmaking van die uitslae beboet nie, maar ook die hof op ’n dringende basis genader om die publikasie daarvan te probeer keer.

Op grond van die 2022-hofbevel beskou AfriForum die afdwingingsbevel van die IR as ongeldig en is dit daarom gereed om enige optrede teen die DBO en bekendmaking teen te staan.

“Matrikulante het die reg op privaatheid, maar ook die reg op toegang tot hulle uitslae op openbare platforms, mits hulle name nie gepubliseer word nie. Dit is ’n gevestigde gebruik en die hof het reeds toegegee dat dit in almal se belang is,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings