AfriForum en Solidariteit voer konstruktiewe gesprek met PanSAT oor Bela
AfriForum en Solidariteit het vandag ’n konstruktiewe gesprek met die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) gevoer rakende die bedreigings wat die Bela-wet vir moedertaalonderrig en veeltaligheid inhou. Tydens die vergadering het beide Solidariteit en AfriForum uitgelig hoe sekere dele van artikels 4 en 5 van die Bela-wet nie net die voortbestaan van Afrikaanse skole onmoontlik maak nie, maar ook versuim om enigsins ander inheemse tale as onderrigtaal, asook veeltaligheid, te bevorder.
Dié vergadering vorm deel van ’n reeks intensiewe gesprekke wat AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging tans met politieke partye in die regering van nasionale eenheid (RNE), burgerlike organisasies en tradisionele leiers voer in ’n poging om konstruktiewe oplossings vir die Bela-dispuut te vind. Die RNE se konsultasieproses is ook tans aan die gang tussen verskeie politieke partye aan wie AfriForum en Solidariteit voorstelle vir moontlike oplossings gemaak het.
Benewens dié proses, is Solidariteit ook deel van ’n konsultasieproses met die presidensie en die Departement van Basiese Onderwys nadat Solidariteit ’n artikel 77-aansoek by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) ingedien het. Nedlac het in Oktober met ’n bemiddelingsproses tussen die partye begin om ’n ooreenkoms oor die Bela-wet te probeer bereik.
Tydens vandag se vergadering tussen AfriForum, Solidariteit en PanSAT is dié raad verteenwoordig deur onder meer sy uitvoerende hoof, Lance Schultz, en uitvoerende hoof vir Tale, Julius Dantile. AfriForum se afvaardiging het uit Kallie Kriel, uitvoerende hoof, en Alana Bailey, hoof van Kultuursake, bestaan. Die afvaardiging van Solidariteit het dr. Dirk Hermann, Bestuurshoof, en Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), ingesluit.
Volgens Kriel het die Bela-dispuut tot gevolg dat verskeie rolspelers in die samelewing opnuut betrek word by die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig sodat elke kind in die land die geleentheid kry om op die beste moontlike manier onderrig te word. “Die gebrek aan moedertaalonderrig dra daartoe by dat die helfte van gr. 1-leerders nie gr. 12 haal nie, terwyl die meerderheid wat wel gr. 12 haal gekniehalter word deur om matriek te skryf in ’n ander taal as hulle moedertaal. Die gesprekke oor Bela bied nou die ideale geleentheid om sinvolle oplossings te vind, daarom is ons ten volle verbind tot die konsultasieprosesse wat tans plaasvind.”
Hermann verwelkom PanSAT se betrokkenheid by die Bela-proses, aangesien dié wet nie net op Afrikaans gerig word nie, maar ook versuim om moedertaalonderrig in die algemeen te bevorder. “Ons doen ’n beroep op PanSAT om sy grondwetlike mag te gebruik om die erodering van taalregte in Suid-Afrika te stop.”