|

AfriForum en Saai skenk 10 ton voer vir droogtehulp

AfriForum en Saai het Maandag (21 Oktober) 10 ton voer aan boere in die Kenhardt-omgewing in die Noord-Kaap afgelewer om hulle te help met die voortslepende droogte in die area. Dié organisasies het boonop ’n noodfonds gestig om broodnodige verligting aan die 58 boere en sowat 24 000 vee te bring wat tans deur hierdie droogte geraak word.

“Boere probeer oorleef in die moeilike omstandighede, maar daar vrek daagliks talle vee as gevolg hiervan. Boere is raadop en het boonop al by die regering aangeklop vir hulp, maar daar het niks daarvan gekom nie. Daarom het AfriForum in samewerking met Saai alles in die stryd gewerp om te verseker dat boere in staat is om hul vee te voer,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Dele van die land het in laaste paar jaar ernstige droogtes ervaar. Plase in die Kenhardt-omgewing het slegs 9 mm reënval in die afgelope jaar gehad. Gevolglik is daar nie meer gras in die veld vir die vee nie. Die droogte plaas nou groot finansiële druk op boere, aangesien voer aangekoop moet word.

“Die aflewering van 10 ton voer aan boere in Kenhardt onderstreep nie net Saai se verbintenis tot onmiddellike verligting nie, maar beklemtoon ook die noodsaaklikheid vir volhoubare oplossings om veerkragtigheid teen voortdurende droogte-uitdagings in ons landbou-gemeenskappe te verbeter,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Ons sien al hoe meer dat rampe soos hierdie plaasvind. Dit is krities dat rampgebiede vinniger verklaar word, maar ook dat ramphulp en ondersteuning van die provinsiale en nasionale regering die boere bereik wat dit die nodigste het. Ons is dankbaar vir AfriForum en Saai se lede en die wyer publiek se ondersteuning in hierdie verband; hulle was nog altyd staatmakers.”

AfriForum maak staat op die gereelde skenkers tot die noodfonds sodat daar verligting gebring kan word vir boere in nood. Enige persoon kan tot AfriForum se noodfonds bydra. Besoek www.afriforum.co.za om ’n bydra tot hierdie fonds te maak of maak ’n direkte skenking by:

Bank: Eerste Nasionale Bank
Rekeninghouer: AfriForum MSW
Takkode: 261550
Rekeningnommer: 623 498 98 398
Verwysing: Voer

Soortgelyke plasings