AfriForum en Raising Brightness besoek Pretoria-skole op Besigheidsbytjies-bemarkingstoer
Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 15 Maart by die Laerskool Monumentpark in Pretoria besoek afgelê as deel van hierdie aanlyn entrepreneurskompetisie se bemarkingstoer. Raising Brightness, ook ’n borg van die kompetisie, toer saam met AfriForum om ook hulle boek en kurses, Bou ’n Besigheid, bekend te stel. Hulle was ook op 16 Maart by die Laerskool Wierdapark in Centurion.
AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses aangepak. Die kompetisie is intussen uitgebrei om voorsiening te maak vir hoërskoolleerders wat ’n passie en kop het vir besigheid. Hierdie jaar spog dié kompetisie met twee splinternuwe kategorieë, naamlik die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaners in die buiteland) en die Saai-kategorie (entrepreneurs wat ’n liefde het vir landbou).
“AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer en om veerkragtig te wees. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.
“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem en hulle entrepreneuriese vaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik hulle ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
“Raising Brightness se Bou ’n Besigheid vir jong entrepreneurs is ’n kursus vir kinders oor hoe om ’n besigheid te bou op ’n jong ouderdom. Dit fokus op hoe geld gemaak kan word en hoe om probleme op te los. Die kursus dek onderwerpe soos idee-generering vir ’n besigheid, hoe om ’n naam en logo te kry, kosteberekening, bemarking strategieë, asook lekker praktiese elemente soos hoe om ’n webblad en pamflette te ontwerp. Jy kan individueel deur die boek werk of aanlyn klasse bywoon,” sê Yolanda Grobler, stigter van Raising Brightness.
“By Laerskool Wierdapark wil ons graag ons kinders op alle aspekte ontwikkel om tot die beste van hulle vermoëns te kan presteer. Daar moet ’n balans wees tussen akademie, sport, kultuur, leierskap, sosiaal en nog vele meer. Entrepreneurskap is ’n lekker praktiese manier om baie van die balans te kan uitleef. Die fokus begin by akademie, maar daar is soveel meer lewensvaardighede wat ons kinders daaruit kan put. Ook in ’n wêreld waar elkeen moet kan opstaan vir hom/haarself is die vaardighede van uiterse belang. Baie dankie aan AfriForum en Raising Brightness vir die inisiatief om ons kinders op ’n kreatiewe en opwindende wyse entrepreneurskap te leer,” sê Louis Dekker, hoof van die Laerskool Wierdapark.
Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om in te skryf vir dié kompetisie. Aanlyn-inskrywings open 5 April 2022 en daar is ook ’n kontantprys vir die skool met die meeste inskrywings. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.