|

AfriForum en Matteus bemagtig leerders by Laerskool Elarduspark met Teenboelieveldtog

Die span van die burgerregteorganisasie AfriForum se Teenboelieveldtog en die veldtog se gelukbringer, Matteus, het op 14 Junie besoek aan die Laerskool Elarduspark in Pretoria afgelê. Die burgerregteorganisasie het hul boodskap – in ’n poging om boeliegedrag te bekamp – aan oor die 840 leerders in graad 4 tot 7 oorgedra. AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die “volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind.

AfriForum bemagtig reeds vir sewe jaar skole landwyd met hierdie veldtog. “Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum.

Volgens die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) van 2015, het 44% van Suid-Afrikaanse graad 5-leerders gerapporteer dat hulle weekliks geboelie word. Hierdie studie het bevind dat Suid-Afrikaanse graad 5-leerders die hoogste voorkoms van boeliegedrag uit die 49 lande wat deelgeneem het, ervaar het. Daarbenewens het 34% van die leerders gerapporteer dat hulle maandeliks geboelie word​. Hierdie hoë persentasie dui op ’n ernstige probleem wat die emosionele en akademiese welstand van jong kinders negatief beïnvloed. Dit is dus belangrik dat ouers hul kinders bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag hok te slaan. Ouers en kinders moet ook proaktief optree om te voorkom dat boeliegedrag uitkring.

“Boeliebewusmaking in skole is van kardinale belang omdat dit ’n veilige en ondersteunende leeromgewing bevorder. Hierdie veldtogte help om leerders in te lig oor wat boeliegedrag behels en die negatiewe impak daarvan op slagoffers. Deur bewusmaking te verhoog, word empatie en respek onder ons kinders bevorder, wat kan lei tot ’n meer samewerkende en inklusiewe skoolkultuur. Veldtogte bied ook waardevolle hulpbronne en ondersteuning aan slagoffers van boelies, wat hulle help om hul situasies beter te hanteer. Onderwysers en personeel word toegerus met die nodige vaardighede en kennis om boelies doeltreffend te identifiseer en aan te spreek,” sê Hester van Schalkwyk, onderwyser aan die Laerskool Elarduspark.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings