| |

AfriForum en Matlabas Custodians beklink samewerkingsooreenkoms om gemeenskapsveiligheid te versterk

AfriForum en Matlabas Custodians het gister ’n samewerkingsooreenkoms gesluit wat daarop gemik is om gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Noordwes en Gauteng te bevorder. Hierdie vennooitskap strek oor ’n gebied van meer as 2 miljoen hektaar en gaan gemeenskappe beter toerus om bedreigings te hanteer met behulp van omvattende veiligheidsinisiatiewe.

Hierdie samewerkingsooreenkoms stel verskeie geleenthede beskikbaar om strategiese projekte te begin soos die uitbreiding van inligtingsnetwerke en om gebeurlikheidsplanne op ’n gereelde basis in te oefen om sodoende vinnige en doeltreffende optrede te bevorder.

Voorts behels hierdie vennootskap ook ’n lugvleuelkomponent wat daarop gemik is om vinniger te reageer op plaasaanvalle en ander misdade. Hierdie operasionele verbeteringe sal gemeenskappe weerbaar maak en hulle versterk te midde van verskeie veiligheidsuitdagings wat woed.

Die organisasies sal ook hul uitgebreide spesialiskennis en gevorderde tegnologie soos hommeltuie saamvoeg om hul doel te bereik. Hierdie tegnologie sal help om groot en afgeleë gebiede te moniteer om vinniger reaksie te verseker en kritiese inligting aan noodspanne te voorsien. Opleiding en om kapasiteit uit te brei is nou vir die organisasies prioriteit aangesien beide organisasies doelgerigte planne in plek het om gemeenskapslede toe te rus met praktiese vaardighede en strategiese insigte.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is hierdie samewerking ’n mylpaal vir beide organisasies. “Die vertrouensverhouding wat AfriForum en Matlabas Custodians al opgebou het, is van kardinale belang.”

“Ons weet dat die pad na volhoubare veiligheid in ons gemeenskappe gebou word op ’n sterk fondasie van samewerking en ’n gemeenskaplike doelwit. Saam kan ons ’n netwerk bou wat ’n wesenlike verskil in mense se lewens maak en wat hoop skep vir ’n veiliger toekoms.”

AfriForum en Matlabas Custodians se vennootskap is egter net die begin – die doel is om ander veiligheidsorganisasies en -strukture by hierdie netwerk te betrek om ’n  breër kommunikasienetwerk te vestig. Deur hulpbronne saam te voeg en gemeenskappe toe te rus met verbeterde toerusting, sal hierdie vennootskap poog om hoër vlakke van koördinasie en gedeelde ondersteuning te bied.

“Die versterking van hierdie steunkring is die verwesenliking van ‘saam staan’ deur gewone mense wat die gemeenskap se veiligheid op die hart dra,” sê Hemmens. “Ons is verbind tot die visie om mense se alledaagse lewens te verander, en hierdie projek dien as ’n baken van hoop vir gemeenskappe wat soms voel dat hulle aan hul eie lot oorgelaat word.”

AfriForum en Matlabas Custodians nooi ander rolspelers uit om deel te word van hierdie beweging en saam te werk aan ’n sterker, meer weerbare toekoms vir almal.

Soortgelyke plasings