AfriForum en koninklike organisasie ROLESA smee bande
Die koninklike leiersorganisasie Royal Leaders of South Africa (ROLESA) en AfriForum het vandag ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms in Centurion onderteken. Die organisasies het ooreengekom om hul samewerking te fokus op gemeenskapselfbestuur en -selfstandigheid om landelike kultuurgemeenskappe te beskerm en om hul deelname in besluitneming te bevorder en te verseker dat hulle voordeel trek uit die ontwikkeling van hul grond. Een spesifieke fokusarea van die samewerkingsooreenkoms is om te verseker dat die titelaktes van grond, wat tans namens koninklike gemeenskappe in staatsvoogdyskap gehou word, aan die onderskeie gemeenskappe oorgedra word.
“Ons is bly dat ons die verhouding met AfriForum vandag geformaliseer het. Ons is oortuig dat goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe van groot belang is vir die vind van oplossings vir gedeelde uitdagings en om die toekoms te skep wat ons graag vir die kinders van kultuurgemeenskappe in die land wil hê. Ons glo dat hierdie vennootskap ’n belangrike rol sal speel in die daarstelling van ’n beter manier om koninklike gemeenskappe ekonomies en maatskaplik te laat ontwikkel,” sê prins Manene Tabane, nasionale organiseerder van ROLESA.
“Dit is bemoedigend om deel te wees van ’n groeiende netwerk van kultuurgemeenskappe en organisasies wat toegewy is aan samewerking, gegrond op wedersydse erkenning en respek, om te verseker dat die toekomstige geslagte van kultuurgemeenskappe in harmonie en voorspoed kan leef. Die pragtige, dog komplekse, samelewing aan die suidpunt van Afrika met al sy volke, kulture en tale vereis ’n benadering wat by hierdie werklikheid pas. Die netwerk van gemeenskappe wat op gemeenskapsfederalisme gegrond is, en besig is om op voetsoolvlak vorm aan te neem, is meer gepas vir ons komplekse werklikheid. Dit sal kultuurgemeenskappe in staat stel om saam langtermynoplossings te skep om ons gedeelde uitdagings te takel en gedeelde belange te dien,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
Die organisasies wil met hierdie ooreenkoms ’n blywende verhouding vestig en onderhou om vrede en vriendskap te verseker tussen die kultuurgemeenskappe wat deur die organisasies verteenwoordig word, en om hul ontwikkeling te bevorder deur middel van onder meer die volgende:
- bewaring en beskerming van kulturele identiteit en erfenis;
- bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur;
- bevordering van interkulturele versoening en dialoog; en
- bevordering van moedertaalonderrig.
Die volgende beginsels vorm die grondslag van die ooreenkoms:
- wedersydse erkenning en respek;
- vreedsame naasbestaan;
- aanvaarding van mekaar se identiteit, blywendheid en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe;
- die voorreg van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en te vestig en om hul eie instellings te onderhou sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit;
- respek vir die diversiteit van beherende instellings, gebruike en gewoontes, insluitende dié wat verband hou met grondgebruik en -besit; en
- vryheid van geloof en geloofs- en kulturele gebruike.
ROLESA is in November 2022 gestig met die doel om ’n betekenisvolle rol te speel in die ontwikkeling van die land met ’n spesifieke fokus op die uitdagings wat koninklike leiers, en die landelike gebiede waar hulle as leiers dien, in die gesig staar.