AfriForum en kie spring self in om Thabazimbi se wekelange waterprobleem op te los
Thabazimbi gaan die laaste tyd gebuk onder gereelde wateronderbrekings en vir die eerste keer in 50 dae is daar eindelik weer water in sommige dele van die dorp. Dít kom nadat AfriForum se Thabazimbi-tak saam met inwoners en die privaatsektor ingespring het om self die waterlekkasies reg te maak.
AfriForum het onlangs saam met die mynmaatskappy ArcelorMittal altesaam 8 km se waterpyplyn herstel, asook Thabazimbi se reservoirs in Jordaanstraat na hul volle glorie herstel. Die woongebied wat water van dié reservoirs ontvang gaan al vir vyf jaar lank gebuk onder gereelde toevoerprobleme weens watertekorte.
ArcelorMittal was genoodsaak om hierdie projek van stapel te stuur om sy bedrywighede voort te sit. Met behulp van dié onderneming se spesialiste en AfriForum se mannekrag en toerusting is daar aan die infrastruktuur gewerk en is inwoners se watertoevoer eindelik herstel.
“Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit se versuim om behoorlik aandag aan hierdie dringende probleem te gee en die drastiese stappe wat die gemeenskap moes neem om te verseker dat hulle toegang tot ’n basiese mensereg het, benadruk die belangrikheid daarvan dat munisipaliteite ruimte maak vir privaat ondernemings en organisasies om broodnodige dienslewering te verrig,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
Gegewe die erns van die voortdurende krisis beplan AfriForum om ’n watertenkwa beskikbaar te stel sodat die inwoners van Thabazimbi hulle watertenks teen ’n bekostigbare prys kan laat opvul.
“Die werk wat AfriForum en ander organisasies in Thabazimbi verrig het, dien as ’n bewys van die impak wat samewerking tussen burgerlike organisasies, privaat ondernemings en ’n gemeenskap kan maak – veral as dit by munisipale kwessies kom wat die hele gemeenskap raak. Die laksheid van die munisipaliteit beteken dat die toewyding van elke individu en organisasie noodsaaklik is om uitdagings die hoof te bied en vooruitgang te bevorder,” voer Barry Knuppe, ondervoorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak, aan.
Water word toenemend ’n groter probleem in Suid-Afrika, daarom is dit noodsaaklik dat mense nie onkant gevang word nie en vroegtydig oplossings vir hul huishoudings vind. Besoek https://afriforum.co.za/wateropname/ om AfriForum te help om wateruitdagings in gemeenskappe te identifiseer of besoek www.wordlid.co.za om by die Thabazimbi-tak betrokke te raak.