|

AfriForum en ander belanghebbendes vergader met munisipaliteit in Parys

AfriForum en verteenwoordigers van die Gemeenskapsforum, Save Ngwathe, Mooi Parys en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het 22 Oktober ’n vergadering met verteenwoordigers van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gehad oor verskeie probleme in Parys. Die munisipale bestuurder was nie teenwoordig nie. Mokete Phele, bestuurder van tegniese dienste, en Henk Coetzer, elektriese ingenieur, het die munisipaliteit op die vergadering verteenwoordig.

Luidens Philip de Wet van die DWS vorder die projek by die watersuiweringswerke goed; daar is egter verandering in die werksbestek wat die projek vertraag. ’n Kontrakteur is onlangs aangestel om die opvangbakke, vanwaar die water na die gemeenskap gepomp word, skoon te maak.

Rakende die swak watergehalte het Phele bevestig dat die reservoirs skoongemaak is. Schonkenville se reservoir sal volgende week skoongemaak word en die pypnetwerk sal vanaf volgende week stuk-stuk gespoel word om die aangepakte vullis in die pype skoon te maak. Daar word egter versoek dat die gemeenskap vooraf in kennis gestel word as die water in sekere dele afgeblok word, sodat inwoners voorsorg kan tref.

Wat die waterlekkasies betref, voer Phele aan dat die asbespype nog nie vervang is nie omdat die kontrakteur afgedank is. Tydens die vergadering is gevra dat daar spoedig plan gemaak moet word, aangesien heelwat water deur dié lekkasies verlore gaan. AfriForum het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om so spoedig moontlik die tenderproses van stapel te stuur sodat die pyplyne vervang kan word soos per die tender.

Die rioolstortings wat AfriForum en Save Ngwathe telkens aangemeld het, het nog geen aandag gekry nie en die riool stroom steeds in die Vaalrivier in. AfriForum het Phele na die mangat by Die Sandgat geneem dat hy self kan sien hoe die riool daar instroom. Hy het erken dat dit die Ngwathe-munisipaliteit se fout is. Met ’n besoek aan die rioolpompstasie is bevind dat geen pomp werk nie en dit is deel van die oorsaak van die probleem.

Phele onderneem hulle sal aansoek doen vir munisipale infrastruktuur-toelae om die pompstasie te herstel. Daar sal met die munisipale bestuurder gepraat word sodat noodmaatreëls ingestel word, aangesien die huidige situasie krimineel is. AfriForum sal die situasie moniteer en verdere stappe oorweeg indien die rioolstorting nie gestop word nie.

Rakende die geweldige kragonderbrekings waaronder inwoners gebuk gaan, het Coetzer aangevoer dat die grootste probleem kabeldiefstal en derhalwe die beskadiging van substasies is. AfriForum onderneem om ’n veiligheidsanalise te doen en met voorstelle vir sekuriteit na vore te kom.

Op die vergadering is daar beklemtoon dat ’n stelsel in werking gestel moet word vir inwoners om probleme op ’n doeltreffende manier te kan rapporteer en waarop hulle dan behoorlike terugvoering kry. Phele onderneem om ’n vergadering vir volgende week hieroor te skeduleer. Die kragvoorsiening vir die waterwerke tydens kragonderbrekings is egter steeds ’n probleem en moet prioriteit geniet.

Verder word die Ngwathe-munisipaliteit gemaan om dringend aandag te gee aan ’n rampbestuursplan en om die brandweer reg te ruk. Daar moet ook ’n gesondheid- en veiligheidsbeampte aangestel word. Die gebou wat onlangs afgebrand het, het bewys dat die munisipaliteit glad nie paraat is wat enige ramptoestand betref nie.

“Ons is bekommerd oor die baie sake by die munisipaliteit wat nie die nodige aandag geniet nie. Die gemeenskapsorganisasies sal nie die druk verslap nie en elke inwoner moet ook die nodige druk op die munisipaliteit toepas – nie net op WhatsApp-groepe nie. Ons het aan die munisipaliteit beklemtoon dat voortdurende en korrekte kommunikasie van uiterste belang is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, rus die onus ook op die gemeenskap om te help met die rapportering van insidente en om te help met oplossings vir ’n mooier en veilige Parys. “Alle sake moet by die polisie aangemeld word om hulle hande te versterk vir beter polisiëring en genoegsame voertuie en mannekrag wat afhang van die statistieke van die polisiekantoor. Help ons ook deur julle oë en ore oop te hou en deel te neem wanneer ons aksies in die dorp begin,” sluit Burger af.

“Daar is wel vordering op sekere fronte soos die opgradering van die waterwerke maar die munisipaliteit voldoen nog nie in alle aspekte aan hulle mandaat nie. AfriForum wil graag die munisipaliteit help om oplossings vir probleme te vind en dit te help implementeer. My bekommernis is egter dat daar gewoonlik mooi beloftes gemaak word tydens die vergadering maar dat dit egter leë beloftes is. Indien daar nie samewerking en daadwerklike aksies is om die stand van die rioolstorting, infrastruktuur en elektrisiteit in Parys op te los nie, sal ons die remedies tot ons beskikking aanwend om die munisipaliteit te verplig om dit wel te doen,” sê Corné Cronje, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapsake.

Indien jy by die AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings