|

AfriForum eis Kai !Garib om dringend by rioolkrisis in te gryp

Die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit het vyf werksdae om op ’n brief van AfriForum oor die ernstige rioolprobleem in Kakamas, Kenhardt en Keimoes te reageer. Indien die burgerregteorganisasie geen terugvoer ontvang nie sal verdere stappe oorweeg word, omdat die rioolbesoedeling verrykende gevolge vir menslike gesondheid en die omgewing inhou.

In die brief wat AfriForum vandag (16 September) aan Obakeng Isaacs, die munisipale bestuurder van die Kai !Garib-munisipaliteit, gestuur het, eis die organisasie dat die munisipaliteit onmiddellik aandag gee aan die mangate in Kakamas, Kenhardt en Keimoes wat oorloop.

AfriForum het reeds op 1 Augustus ’n brief aan Isaacs oor die gebrekkige dienslewering in dié drie dorpe gestuur, maar geen terugvoer ontvang nie.

AfriForum is bekommerd oor die toestand van die Kai !Garib- munisipale rioolinfrastruktuur en die effek daarvan op die Kakamas-, Kenhardt- en Keimoes-gemeenskappe se gesondheid en welstand, sowel as op die omliggende omgewing van die Oranjerivier. Die pompstasies wat riool na die rioolwerke lei, is buite werking en dit wil voorkom asof daar al vir ’n paar jaar geen instandhouding op dié pompstasies se infrastruktuur plaasvind nie. Die rioolpompstasies wat nie werk nie se riool vloei direk in die Oranjerivier in. Daar is ook verskeie mangate in Kakamas, Kenhardt en Keimoes wat oorloop. Rou riool word egter in oop velde langs residensiële gebiede uitgepomp om die mangate te ontblok.

In Kenhardt spesifiek is die rioolpompstasie al vir ’n paar jaar buite werking en boonop is sekere dele van dié dorp al vir weke sonder drinkwater. Die munisipaliteit wend geen poging aan om die pompstasie te herstel nie.

In die brief eis AfriForum ook dat die rioolpompstasies herstel word. AfriForum versoek ook  ’n vergadering met die munisipaliteit om die moontlikheid van toekomstige samewerking te bespreek.

Raak by AfriForum om n verskil te maak in jou dorp of omgewing: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings