AfriForum eis dringende ingryping by rioollekkasie wat Benoni-damme bedreig
AfriForum se Benoni-tak het ’n dringende versoek aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om onmiddellik aandag te gee aan ’n rioollekkasie op openbare grond naby die N12-hoofweg. Hierdie lekkasie dra direk by tot die ongekontroleerde verspreiding van waterhiasinte in Benoni se damme, wat ernstige ekologiese en ekonomiese uitdagings veroorsaak.
Luidens ’n brief wat AfriForum op 23 Januarie aan die Ekurhuleni-metro gestuur het, floreer waterhiasinte in water wat met riool besoedel is en hoë vlakke van stikstof en fosfor bevat. Hierdie toestande skep ’n ideale omgewing vir die plant om te versprei en hou verskeie gevolge in, waaronder die versperring van waterweë (die vloei van waterstrome word belemmer), die ontwrigting van ekosisteme (waterhiasinte verwyder meeste van die suurstof uit die water, wat dus ’n bedreiging vir die waterlewe inhou) en gesondheidsrisiko’s vir mens en dier (die plante skep broeiplekke vir peste soos muskiete).
Die Benoni-gemeenskap en die munisipaliteit het reeds aansienlike hulpbronne en tyd bestee om die uitdaging met waterhiasinte op te los. Die rioollekkasies steek egter ’n stokkie voor die vordering, wat dit bemoeilik om blywende resultate te behaal.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Oos-Rand, is die impak van hierdie rioollekkasie nog meer ingrypend. “Nie net veroorsaak hierdie lekkasie ekologiese skade nie, maar dit ondermyn ook die moeite en belasting wat die munisipaliteit en die gemeenskap reeds spandeer om die probleem met waterhiasinte op te los. Die munisipaliteit moet dringend optree om volhoubare oplossings vir rioollekkasies te implementeer,” sê Ferreira.
In die brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om die rioollekkasie so gou moontlik te herstel, om praktyke vir volhoubare afvalbestuur te implementeer om soortgelyke probleme in die toekoms te voorkom en om saam met belanghebbendes te werk om ’n omvattende en doeltreffende strategie teen waterhiasinte en rioolprobleme te ontwikkel.
AfriForum se Benoni-tak het die Ekruhuleni-metro ook uitgenooi om saam met die tak en ander gemeenskapsorganisasies oplossings te vind om op ’n volhoubare en doeltreffende manier van die waterhiasinte, wat boonop ook Benoni se waterweë vervuil, ontslae te raak.
“AfriForum se Benoni-tak is daartoe verbind om die gemeenskap se belange te beskerm en sal aanhou druk toepas totdat hierdie probleem opgelos is,” sluit Ferreira af.
Om betrokke te raak by AfriForum se Benoni-tak besoek www.sluit-aan.afriforum.co.za of stuur ’n e-pos na benoni@afriforumtak.co.za om hierdie initiatief te ondersteun.