AfriForum eis deursigtigheid oor besonderhede van Lesufi se nuwe kantore
Ná die Gautengse provinsiale regering op sosiale media aangekondig het dat die Premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se nuwe kantore by Marshallstraat 55 is, druk AfriForum vir die nodige deursigtigheid. Hierdie gebou het voorheen gedien as die korporatiewe hoofkantoor van Anglo American Platinum. Anglo American het in ’n verklaring aangekondig dat die gebou aan Olitzki Property Holdings (OPH) verkoop is, wat dit nou aan ’n “vooraanstaande huurder” sal verhuur.
Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA) aan die Gautengse provinsiale regering, asook die verhuurder van die gebou, gerig om die volgende inligting te versoek:
- ’n Afskrif van die huurooreenkoms tussen die premierskantoor en OPH vir die eiendom by Marshallstraat 55 in Marshalltown.
- Finansiële rekords wat die maandelikse huur en uitgawes aandui vir hierdie eiendom. Hierdie sluit alle rekords rakende hervestigingsfooie, kantoortoerustingaankope en uitgawelyste vir die nuwe kantoor in.
- Rekords rakende die besluitnemingsproses om die kantoor van die premier na die eiendom te verskuif, insluitend notules van die vergadering en korrespondensie.
- Rekords, dokumente en korrespondensie wat ander eiendomme aandui wat die kantoor van die premier vir hervestiging oorweeg het en die voorgestelde huurbedrag van hierdie eiendomme.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekking by AfriForum, is dit die Gautengse provinsiale regering se verantwoordelikheid om deursigtigheid te verskaf aan die inwoners van die provinsie oor presies hoe hulle fondse allokeer te midde van ’n water-, infrastruktuur-, en misdaadkrisis in dié provinsie.
“Lesufi het ’n baie vrot rekord wanneer dit kom by vermorsing van geld onder sy toesig. Toe Lesufi LUR van Onderwys was in Gauteng, het sy departement R431 miljoen gemors aan die ontsmetting en diepskoonmaak van leë skole. Sy swak rekord noodsaak meer deursigtigheid wanneer dit by geldsake kom,” sluit Van Zyl af.