|

AfriForum, DWS en munisipaliteit onderneem watertoetse by Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg  

Volgehoue druk van AfriForum op die Stellenbosch-munisipaliteit het daartoe gelei dat daar vandeesweek uiteindelik watertoetse by die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg gedoen kon word. AfriForum sowel as verteenwoordigers van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het watermonsters vir toetse geneem ná dit aan die lig gekom het dat daar vermoedelik reeds sedert verlede jaar gereeld rou riool in riviere in die omgewing gestort word.

AfriForum het reeds verlede jaar in Oktober deur middel van ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) die Stellenbosch-munisipaliteit gevra om inligting oor dié gerugte te verskaf. Dié aansoek sowel as die appèl daarop is afgekeur, waarna ’n klag onlangs by die Inligtingsreguleerder (IR) ingedien is om die munisipaliteit te dwing om die inligting aan AfriForum beskikbaar te stel.

Die munisipaliteit het ná verskeie versoeke tot ’n vergadering met AfriForum by die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg ingestem waar die DWS en die WNNR, wat die onafhanklike watertoetse behartig, ook bydraes gelewer het. Verskeie haakplekke, wat tot ’n wantrouige verhouding tussen die munisipaliteit, AfriForum en lede van die publiek gelei het, is tydens die vergadering geïdentifiseer.

“AfriForum is tevrede met die vordering wat gemaak is vandat sy Stellenbosch-tak bekommernisse rakende die watersituasie by die munisipaliteit aangemeld het. AfriForum sien uit na die positiewe verwikkelinge wat vanuit die nuwe verhouding, wat tussen die rolspelers gevestig is, kan kom,” sê Jacques Benadé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Verteenwoordigers het watermonsters by drie punte na afloop van die vergadering geneem. Dié monsters is by die uitvloei van die rioolsuiweringsaanleg, stroomop én stroomaf van die uitvloei geneem en sal nou onafhanklik getoets word.

Die DWS se groendruppelverslag wat in November verlede jaar uitgereik is, het die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg ’n kumulatiewe risikopunt van 86,4% gegee. Prosesbeheer, kapasiteit en instandhouding is as probleemareas uitgewys. Watertoetse wat vroeër vanjaar gedoen is, het op die voorkoms van hoë vlakke E. Coli (Escherichia coli) in sommige watermonsters gewys. Die aanvaarde vlak is 10 dele per 100 ml, maar in dié monsters is tot 200 000 dele per 100 ml aangeteken.

Daar is vandeesweek op ’n verdere vergadering tussen die onderskeie betrokke partye in die nuwe jaar ooreengekom waar die resultate van die toetse bespreek sal word asook hoe daar saamgewerk kan word om die uitdagings by dié aanleg te oorkom.

AfriForum beplan nou om hul fokus na ander rioolwerke te verskuif om te verseker dat die kwaliteit van water wat by rioolsuiweringsaanlegte in die omgewing gepomp word, gehandhaaf word. Munisipaliteite kan ook by mekaar leer en suksesse wat behaal word by rioolwerke kan met ander gedeel word om die strukture van Suid-Afrika verder te versterk en uit te bou.

“Die Stellenbosch-tak dryf hierdie veldtog al vir meer as ’n jaar. Met die volgehoue druk, navorsing en talle ure wat spandeer is deur die tak se bestuur, is die afgelope vergadering en die resultaat daarvan ’n sukses vir die tak en ’n tree in die regte rigting. Ons moedig lede van die gemeenskap aan om by AfriForum se Stellenbosch-tak betrokke te raak en hulle te ondersteun om hierdie belangrike projekte te dryf,” sluit Benade af.

Soortgelyke plasings