|

AfriForum dring aan op Lesufi se verwydering om “Dag Zero” in Gauteng af te weer

Die burgerregteorganisasie AfriForum waarsku dat Gauteng se dreigende waterkrisis aan die ernstige omvang van munisipale verval toegeskryf kan word en dat premier Panyaza Lesufi se versuim om beslissend op te tree, watervoorsiening in die provinsie op ’n ramp afstuur. AfriForum voer aan dat Lesufi se mislukking om deur middel van Artikel 139-ingrypings die provinsie se swak presterende munisipaliteite reg te ruk, as bewys moet dien van die premier se onvermoë om sy pligte uit te voer. Derhalwe, meen die burgerregteorganisasie, moet die nasionale regering nou ingryp en Lesufi uit sy amp verwyder om ’n katastrofe in die ekonomiese sentrum van die land te verhoed.

AfriForum benadruk dat die ouditeur-generaal (OG) se nuutste verslag oor plaaslike regerings ’n kommerwekkende donker prentjie oor die verval in Gautengse munisipaliteite skets. Die verslag het wydverspreide finansiële wanbestuur, bestuursmislukkings, agteruitgang van infrastruktuur en die nienakoming van noodsaaklike wetgewende vereistes aan die lig gebring. Nagenoeg 80% van munisipaliteite en munisipale entiteite in die provinsie het ongunstige ouditmenings gekry.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, maak die Grondwet voorsiening vir die ingryping deur die provinsiale regering in gevalle waar munisipaliteite versuim om hul pligte na te kom. Ondanks die Artikel 139-ingrypings wat reeds sedert Junie 2018, Februarie 2019 en September 2022 sloer in onderskeidelik die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteite, die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit en die Merafong Plaaslike Munisipaliteit, kon Lesufi nog geen betekenisvolle verandering in dié sukkelende munisipaliteite bewerkstellig nie.

“Lesufi se onvermoë om sake in die provinsie reg te ruk, kan nie ten koste van die provinsie se inwoners voortgesit word nie – veral nie terwyl watervoorsiening in die provinsie dreig om die land se belangrikste ekonomiese sentrum op sy knieë te dwing nie. Daarom is nasionale regering se ingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak, noodsaaklik. Lesufi se verwydering uit hierdie kritieke amp is nou die enigste uitweg,” waarsku Mostert. 

Die ingryping in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wat reeds in 2018 begin is, is grootliks ondoeltreffend. Inwoners hier ondervind deurlopend probleme met watervoorsiening, slaggate en onbetroubare vullisverwydering. Daarbenewens is dié munisipaliteit tans meer as R8 miljard in agterstallige skuld aan Eskom verskuldig en dra swaar las aan onbekwaamheid en korrupsie.  

Die Merafong Plaaslike Munisipaliteit is eweneens reeds langer as vyf jaar as deel van die Artikel 139-ingrypingsproses onder administrasie. Intussen duur verval in dié munisipaliteit onverpoosd voort. Die OG-verslag het dié munisipaliteit uitgesonder vir sy swak prestasie en beklemtoon dat leierskap dringend moet optree om nienakoming te takel, amptenare verantwoordbaar te hou en dienslewering te prioritiseer.

Mostert benadruk dat Lesufi se versuim om doeltreffende oorsigmeganismes te implementeer en sy onwilligheid om aanspreeklikheid by munisipaliteite te eis, ’n kritieke leierskapsvakuum op munisipale vlak geskep het.

Uitdagings ten opsigte van munisipale infrastruktuur, swak beplande en vertraagde projekte het grootskaalse diensleweringsprobleme tot gevolg. Daarbenewens is daar minstens 45 infrastruktuurprojekte in die provinsie waarvan die voltooiing sloer, dit terwyl munisipaliteite minder as 8% van die waarde van hul infrastruktuurbates, ver onder die riglyn wat deur die Tesourie daarstel, op nodige herstel en onderhoud bestee het.

“Lesufi se administrasie loop die gevaar om Gauteng oor die randjie van ineenstorting te dwing waar basiese dienste soos skoon water, sanitasie en afvalbestuur nie meer gewaarborg word nie. Sonder ’n duidelike strategie om die sistemiese kwessies wat hierdie munisipaliteite teister, aan te pak, stuur Gauteng af op ’n onvermydelike ramp,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings