|

AfriForum doen voorlegging oor BELA-wetsontwerp aan staande komitee

AfriForum het vandag ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) aan die Staande Komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur gedoen. AfriForum se deelname aan hierdie geleentheid, wat aanlyn plaasgevind het, was bykomend tot die uitgebreide kommentaar wat reeds in Januarie vanjaar by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ingedien is.

In die aanbieding het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, herhaal dat die uitbreiding van moedertaalonderrig in openbare skole, die rehabilitasie van die 80% wanfunksionele skole in die land en die skep van meer kwaliteit infrastruktuur van die oplossings is vir die vele uitdagings wat die onderwyssektor in die land in die gesig staar. Sy het beklemtoon dat die wetsontwerp nie daadwerklike oplossings vir hierdie probleme bied nie.

Sy het verder uitgebrei oor AfriForum se ernstige kommer oor die grondwetlikheid van sekere wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word. Die meerderheid hiervan maak voorsiening vir die toenemende sentralisering van mag in die hande van die staat en die gevolglike ontmagtiging van skole se beheerliggame. Dit sluit die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleide in, asook oor die aankope van onderrig- en leermateriaal.

AfriForum is van mening dat die wetsontwerp as geheel verwerp moet word en dat ’n nuwe wysigingswetsontwerp opgestel moet word. Dit moet nie net grondwetlik belyn en regverdig wees nie, maar ook die nuutste tegnologiese ontwikkelings en onderwysmetodes in ag neem.

Voorleggings van genooide organisasies sal tot Vrydag deur die komitee aangehoor word. Intussen vind openbare raadplegingsessies steeds in enkele provinsies plaas. Na afloop van hierdie prosesse sal die NRP besluit of dit die wetsontwerp goedkeur of nie. Indien dit goedgekeur word, is die volgende stap dat dit aan die president voorgelê sal word vir ondertekening.

Soortgelyke plasings