AFRIFORUM DOEN MONDELINGE VOORLEGGINGS AAN DIE PARLEMENT OOR DIE WYSIGING VAN ARTIKEL 25 VAN DIE GRONDWET EN DIE WETSONTWERP OP ONTEIENING
AfriForum het vandag kommentaar in die vorm van mondelinge voorleggings aan die Ad Hoc-komitee oor Wetgewing vir die Wysiging van Artikel 25 van die Grondwet gedoen, asook aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur teen die Wetsontwerp op Onteiening B 23-2020. Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, het AfriForum se kommentaar op die wysiging van artikel 25 tydens ’n direkte aanlyn sessie gelewer, en Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het AfriForum se kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening gelewer.
Roets het aangevoer dat onteiening sonder vergoeding nie vryheid, geregtigheid of gelykheid sal bevorder nie en ook nie tot verhoogde werkskepping sal lei nie, aangesien al die beskikbare bewyse en ondervinding met betrekking tot hierdie beleid op die teendeel dui. Roets het aangevoer dat die benadering tot grondhervorming meer empiries moet wees in die sin dat beleidsbesluite die werklikhede op grondvlak in ag moet neem, wat ’n hopelose mislukking met betrekking tot grondhervormingsbeleide weerspieël. “Die feit dat meer as 90% van staatsgedrewe grondhervormingsprojekte misluk het, toon dat ’n meer aggressiewe implementering van ’n reeds mislukte beleid net tot ’n meer aggressiewe mislukking sal lei. In hierdie verband is dit duidelik dat politici kontak met die werklikheid verloor het.”
AfriForum het ook kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening van 2020 gelewer en aangevoer dat dit nie aangeneem moet word nie. Van Zyl het aangevoer dat die Wetsontwerp vernietigende gevolge vir Suid-Afrikaners se lewens sal hê in die konteks van huiseienaarskap, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit. AfriForum het voorts aangevoer dat verskeie artikels van die Wetsontwerp boonop ongrondwetlik is.
“As hierdie Wetsontwerp aangeneem word, sal dit ernstige negatiewe gevolge vir die reeds sukkelende ekonomie hê, burgers op gevoellose wyse van hulle eiendomsregte ontneem en die banksektor destabiliseer. Daar moet daarop gelet word dat die Wetsontwerp nie tot plaasgrond beperk is nie. Wat onteiening sonder vergoeding betref, raak dit alle vorme van eiendom, insluitend roerende eiendom en intellektuele eiendom. Die Wetsontwerp se benadering van ‘onteien nou, betwis later’ is ’n algehele konsolidasie van staatsmag om op eiendom beslag te lê sonder geregtelike oorsig,” sê Van Zyl.
“Die doel van hierdie Wetsontwerp kan nie voorgehou word as om die ongeregtighede van die verlede reg te stel nie. Al wat dit doen, is om dit moontlik te maak om verdere ongeregtighede in die hede te begaan. Die doel van die Wetsontwerp is om aan die staat bykans onbeperkte mag te gee om op burgers se eiendom beslag te lê, so eenvoudig is dit,” sluit Van Zyl af.
Die Wetsontwerp is in Oktober 2020 gepubliseer en aan die parlement en die betrokke komitees voorgelê om die grondwetlikheid en bepalings daarvan te bespreek. Die publiek kon skriftelike kommentaar op die Wetsontwerp lewer, met 28 Februarie 2021 as aanvanklike sluitingsdatum vir voorleggings, en AfriForum het skriftelik kommentaar gelewer.