AfriForum doen beroep op Laerskool Mikro se beheerliggaam om Afrikaanse taalbeleid te handhaaf
AfriForum het ’n dringende vertoë aan die beheerliggaam en hoof van Laerskool Mikro gerig om die skool se enkelmedium Afrikaanse taalbeleid te handhaaf. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die skool oorweeg om in 2025 ’n Engelse Graad R-klas in te stel.
Die skool in Kuilsrivier, ’n omgewing met inwoners wat oorwegend Afrikaanssprekend is, het in 2005 bekendheid verwerf met ’n stryd om dit ’n Afrikaanse laerskool te hou. Sedertdien is dit simbolies van Afrikaanssprekendes se behoefte aan onderrig in eie taal en van die noodsaak van moedertaalonderrig. Die skool se sosiale media bewys die gemeenskap se trots op hulle Afrikaanse kultuur in ’n tyd waar baie omliggende skole reeds gedeeltelik of geheel en al verengels het.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit kommerwekkend dat die skool ook nou die druk ervaar om Engelse onderrig te akkommodeer. “Die verskoning dat die skool op eie terme meertalig wil word, alvorens die BELA-wetsontwerp moontlik deur die president onderteken word, is so selfvernietigend soos om van ’n krans af te spring omdat jy bang is iemand gaan jou afstamp,” meen Bailey.
“Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) verklaar gereeld dat dit moedertaalonderrig wil bevorder, maar as dit die geval is, moet daar geen druk op ’n enkelmedium Afrikaanse skool wees om Engelse onderrig te akkommodeer nie. AfriForum neem die saak ook met die WKOD op.”
Bailey beklemtoon dat die beste onderrigopsie moedertaalonderrig is. Verder is dit ook herhaaldelik nasionaal en internasionaal bewys dat parallel- en dubbelmedium-onderrig onvermydelik tot omskakeling na enkelmedium onderrig in die sterkste taal lei. Dit sal in hierdie geval ’n Engelse taalbeleid beteken. Dit sal dus die gemeenskap van Kuilsrivier direk benadeel.
Skole meen soms dat dit hulle finansieel gaan bevoordeel om ook Engelse leerders in te neem, of dat dit hulle gaan help om met skole in die omgewing te kompeteer. Die werklikheid is dat die finansiële posisie dikwels juis versleg, omdat kapitaalkragtige ouers hulle kinders mettertyd na enkelmedium Afrikaanse skole verskuif. Om kompeterend te wees én te bly, moet skole strewe na die aanbied van uitnemende onderwys en buitemuurse aktiwiteite, eerder as om met ’n taalbeleid te probeer steun werf.
“Ter wille van die Afrikaanse kinders én die gemeenskap waarbinne die skool geleë is, is dit noodsaaklik dat die skool se Afrikaanse taalbeleid beskerm moet word,” sê Bailey.