AfriForum dien weer kommentaar op wysigingswetsontwerp op die Verkiesingswet in
Die burgerregteorganisasie AfriForum het weer kommentaar op die wysigingswetsontwerp op die Verkiesingswet by die Nasionale Raad van Provinsies se Komitee op Veiligheid en Justisie ingedien. AfriForum het aanvanklik kommentaar op 21 Februarie 2022 by die Nasionale Vergadering ingedien, waarna bepaalde wysigings in Oktober 2022 aan die wetsontwerp gemaak is en die tydperk vir kommentaar heropen is, noudat dit voor die Nasionale Raad van Provinsies dien. AfriForum hou egter vol dat die wetsontwerp in sy opgedateerde vorm steeds ongrondwetlik is en dus nie aanvaar moet word nie.
Volgens AfriForum maak die wetsontwerp wel voorsiening vir onafhanklike kandidate, maar hierdie kandidate sal slegs een setel toegeken word ongeag hoeveel stemme hulle ontvang. Hipoteties beteken dit dat ’n onafhanklike kandidaat slegs een setel sal ontvang, selfs al ontvang daardie kandidaat dieselfde hoeveelheid stemme as ’n groot politieke party met ’n groot hoeveelheid setels. Die grondbeginsel van verteenwoordigende demokrasie is dat daar geen vermorsing van stemme is nie. Dus, moet die mate van politieke steun in die toegekende hoeveelheid stemme gereflekteer word. AfriForum wys ook daarop dat indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, dit heel moontlik in die hof uitgedaag sal word. Daar word voorspel dat hierdie regsaksie logistieke druk op die belangrike 2024 nasionale verkiesing sal plaas.
“AfriForum steun in beginsel ’n kiesstelsel wat dit moontlik maak vir individue om as onafhanklike kandidate te staan, maar so ’n stelsel moet verteenwoordigend wees. Indien hierdie wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, sal dit ’n afwatering van verteenwoordigende demokrasie beteken, aangesien kandidate steeds slegs een setel sal ontvang ongeag die hoeveelheid stemme wat ontvang word,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.