|

AfriForum-buurtwagte tree in by Kwalata-grondbesetting

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Apiesrivier-buurtwagte het die afgelope naweek ʼn sterk sekuriteitsteenwoordigheid gehandhaaf tydens ʼn grondbesetting naby die Kwalata Lodge in die Dinokeng-wildreservaat.

Volgens Tarien Cooks, provinsiale koördineerder vir die AfriForum Gauteng-Noord, het lede van die gemeenskap reeds verlede Woensdag begin om bome af te kap en grond in die gebied gelyk te maak met die doel om informele behuising op te rig. Hulle het die volgende dag amptelik begin om die private grond naby die reservaat te beset.

Volgens Cooks is ʼn klag van betreding en saakbeskadiging kort daarna by die polisie ingedien.

Sy het verder verduidelik dat van die plaaslike inwoners Vrydag gedreig het om die hekke by die reservaat se Tau- en Ndlovu-ingange af te brand.

AfriForum se hulp is Saterdag deur ander gemeenskapslede van Dinokeng ingeroep en die Apiesrivier-buurtwagte was binne ʼn uur gemobiliseer en op die toneel. Sowat 40 buurtwaglede het bystand gelewer om die Tau- en Ndlovu- ingange te beskerm.

Tydens die naweek is sowat 2 km van die Dinokeng-wildreservaat se heining platgetrap en nog sowat 200 m se heining ter waarde van R500 000 is gesteel.

Volgens Riaan Olivier, voorsitter van veiligheid by die reservaat, is hierdie ʼn veiligheidsrisiko vir beide diere en gemeenskappe.

“Ons is ʼn ‘groot vyf’-reservaat en ons kan geen onderneming gee dat die diere nie sal uitbeweeg na die gemeenskappe toe nie.”

Hy het ook aan Forum Nuus verduidelik dat die gebrek aan sekuriteit die reservaat meer kwesbaar maak vir stropers en oortreders.

“Ons moet nou staatmaak op die regering vir befondsing. Ons kan nie bekostig om honderde duisende rande te spandeer op ʼn nuwe heining, net om te sien hoe dit binne ʼn maand weer platgetrap word nie.”

Die sowat 400 grondbesetters het ook Vrydag ʼn openbare pad wat deur die reservaat loop met klippe en motorbande afgesper.

ʼn Hofbevel is op dieselfde dag teen die besetters in die Pretoriase hooggeregshof uitgereik.

Die besetting het vermoedelik plaasgevind kort nadat die plaaslike gemeenskappe in aanloop tot die munisipale verkiesing toegespreek is en rondom grondhervorming opgesweep is.

Luidens mediaberigte het sekere inwoners ook gesê dat dié grond aan hulle belowe is deur die ANC. Plaaslike ANC-raadslede het die bewerings egter ontken.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê die wyse waarop die buurtwagte saamgewerk het om die situasie te ontlont is ʼn bewys van wat gemeenskappe kan doen om hulself te beveilig.