|

AfriForum-buurtwag trek mesaanvaller vas

Die AfriForum-buurtwag in Danabaai het op 25 September in samewerking met Hands On Security twee verdagtes vasgetrek wat in ’n mesaanval betrokke was.

’n Inwoner van Danabaai is omstreeks 09:00 met ’n mes aangeval, nadat hy sy fiets buite ’n winkel gelos het om inkopies te gaan doen. Toe die man by die winkel uitkom, het hy twee rowers op heterdaad betrap wat besig was om sy fiets te steel. Die man is met die mes deur die hand gesteek en die rowers het weggehardloop. Die AfriForum-buurtwag is ontbied en het saam met Hands On Security en ander partye ’n soektog na die rowers begin.

Die rowers is na ’n soektog van twee ure in Africanastraat – ’n blok van waar die voorval in die omgewing van die watertoring plaasgevind het – aangekeer en aan die polisie oorhandig. “Ons bedank graag almal wat gehelp het met die soektog na die misdadigers,” sê Wynand Enslin, leier van AfriForum se Danabaai-buurtwag. “Ons sal aanhou om ons gemeenskappe te beveilig en met ander rolspelers saam te werk om te verseker dat misdaad nie ’n vastrapplek in die dorp kry nie.”

Sedert die stigting van die Danabaai-buurtwag in Junie het hulle reeds verskeie suksesse behaal. Die buurtwag het onder meer opleiding in verskeie aspekte van patrollies en toneelhantering ondergaan en het in September 4 254,4 km met 58 voertuie gepatrolleer. Dit alles word gedoen deur vrywilligers wat hulle tyd aan hul gemeenskap opoffer om ’n veiliger toekoms vir almal te skep.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en raak by jou naaste buurtwag betrokke. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings