AfriForum-buurtwag slaan toe op vermeende hondevergiftiger
AfriForum se Lichtenburg-buurtwag het die afgelope naweek toegeslaan op ’n verdagte wat moontlik betrek kan word by die onlangse vlaag hondervergiftigings in dié dorp.
Volgens Carel Pauly, operasionele spanleier van AfriForum se Lichtenburg-buurtwag, is ’n verdagte Vrydag (28 Junie) deur die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hegtenis geneem danksy ’n op en wakker AfriForum-buurtwaglid, Myburgh Krige. Krige het op die hoek van Bantjes- en Kerkstraat ’n persoon met ’n winkelwaentjie van ’n kleinhandelaar – meer as ’n kilometer daarvandaan – opgemerk en navraag gedoen oor die gebruik van die waentjie. Dié navraag is egter met aggressiwiteit begroet waarna Krige hulp van medebuurtwaglede ingeroep het.
By nadere ondersoek is ’n treinspoorspyker, ’n stuk ketting, twee hondebakkies en ’n selfvoerder met hondepille in die verdagte se besit gevind. Die hondepille is geëien as dieselfde soort wat nagenoeg ’n week gelede gebruik is om honde in die omgewing te vergiftig.
Die SAPD is van die voorval in kennis gestel en die verdagte is in hegtenis geneem.
Benewens dié sukses, het AfriForum se Lichtenburg-buurtwag ook gister (30 Junie), in samewerking met verskeie ander rolspelers, ingespring om die brand by ’n huis in 2de Straat te blus. Die buurtwag is omstreeks 18:00 van die brand in kennis gestel en het dadelik die besproeiingsmaatskappy Agrico gekontak en versoek dat hul brandbestryders na die toneel ontbied word. Die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit se brandweer was reeds op die toneel en AfriForum se buurtwag het verseker dat die brandweerwa tydens die operasie vol water gehou word. Die privaat sekuriteitsmaatskappy Neokor, die inleepdiens A&M Towing & Recovery en AfriSam het op hul beurt bystand verleen in onderskeidelik skarebeheer, die uitsleep van voertuie van die toneel en bykomende brandbestrydingskapasiteit, terwyl Brother’s Take Away botteltjies water aan die brandbestryders verskaf het.
Die gemeenskap se samewerking het help toesien dat die brand spoedig onder beheer gebring kon word, verduidelik Pauly.
David Fourie, AfriForum se Lichtenburg-buurtwagleier, bedank AfriForum se buurtwaglede en die breër gemeenskap vir hul samewerking en ondersteuning tydens dié brandvoorval. “Dit is deur hierdie kollektiewe pogings dat ons ons gemeenskap veiliger kan maak. Dit beklemtoon ook die belangrikheid van samewerking tussen buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en nooddienste,” meen Fourie.
AfriForum-noodlyn: Buurtwag staan gereed om gemeenskap te help
AfriForum se Lichtenburg-buurtwag is slaggereed om Lichtenburgers in enige noodsituasie by te staan. ’n Noodfoon is onlangs aangeskaf en die gemeenskap word aangemoedig om noodsituasies aan te meld by 072 579 4396.