| |

AfriForum-buurtwag patrolleer 638 uur lank in Desember om Strand-gebied te beveilig

AfriForum se Strand-buurtwag het gedurende Desember, en veral oor die feestyd, dit op hulself geneem om hierdie gemeenskap veilig te hou. Selfs met al die vakansiegangers wat op die gebied toegesak het, die besige strate en sommige buurtwaglede wat self uitstedig was, het die buurtwag vir 638 uur en 39 minute lank patrollies gery. Dit beteken dat die Strand-buurtwag vir 24 uur ’n dag vir 26 dae lank buurte in die gebied beveilig het.

Die 16 buurtwaglede wat aan hierdie patrollies deelgeneem het, het altesaam 146 patrollies in dié maand gedoen en ’n totale afstand van 2 246 afgelê. Hiermee saam het die buurtwag talle kwaaddoeners se planne gefnuik deur wapens, soos messe, skêre, hamers, en huisbraakgereedskap by hulle af te vat.

Tydens Desember was die buurtwag ook doening met bewusmakingsveldtogte en het selfs Helpende Hand bygestaan deur as veiligheidswagte by ’n fondsinsamelingsgeleentheid te dien. Die buurtwag het boonop die Kersfeesgees met die gemeenskap gedeel deur om in samewerking met ander buurtwagte en private veiligheidsmaatskappye deur die strate van Strand te ry en geskenke uit te deel. Buurtwaglede het ook klere geskenk aan vier families wat hul besittings tydens ’n huisbrand verloor het en die gemeenskap aangemoedig om in te spring en te help waar hulle kan.

Die gemeenskap en plaaslike ondernemings het die buurtwag ondersteun deur skenkings van kos en water te maak. “Die Strand-buurtwag is veral dankbaar vir Flameros, MBT en Kohler Motors vir die ondersteuning wat hulle die afgelope maand vir die patrolleerders gebied het,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland. “Sonder die gemeenskap se inkoop in ondernemings soos hierdie, sou dit veel moeiliker gewees het om Strand volhoubaar veilig te hou.”

Maak vandag nóg ’n verskil in die gemeenskap en raak betrokke by die plaaslike AfriForum-tak en buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings