AfriForum-buurtwag help om gekaapte voertuig op te spoor
AfriForum se Moreletapark-buurtwag se slim optrede en die gebruik van slim tegnologie het die afgelope naweek help toesien dat kapers hul buit moes prysgee. Dié slim tegnologie, in die vorm van ’n tegnologies gevorderde kamera wat motorlisensies herken (bekend as ’n LPR-kamera) is in die vroeë oggendure van Saterdag (11 Mei) ingespan om ’n gekaapte voertuig op te spoor. Die kamera behoort aan die Castle Gate-inkopiesentrum en word deur dié sentrum se beheerkamer gemonitor.
Dié sukses spruit uit die samewerking tussen die Castle Gate-beheerkamer, die Moreletapark-buurtwag, AfriForum se Noordstreek-beheerkamer en Forum Sekuriteit en volg nadat ’n voertuig vroeër dieselfde aand deur verdagtes, gewapen met messe, pangas en vuurwapens, in Krugersdorp gekaap is. Hoewel die slagoffers te voet van die toneel af gevlug het, is die voertuig gebuit. Dit is egter kort daarna deur middel van die Castle Gate-LPR-kamera in Pretoria opgemerk.
Die Castle Gate-beheerkamer het AfriForum se Noordstreek-beheerkamer om bystand gekontak, waarop die Noordstreek-beheerkamer die Moreletapark-buurtwag in kennis gestel het van verwikkelinge en versoek het om ondersoek in te stel. Lede van plaaslike privaat sekuriteitsmaatskappye en ’n insleepdiens – Bull Security, Fidelity ADT en First Help – het die buurtwag hierin bygestaan.
Die verlate voertuig is kort voor lank opgespoor. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is van die voorval in kennis gestel en die voertuig is aan die eienaar terugbesorg.
“Die waarde van tegnologie, soos dié wat met die gebruik van LPR-kameras ingespan word, word uitstekend sigbaar in hierdie voorval,” verduidelik Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek. “Dit dien ook as voorbeeld vir die gemeenskap om ook betrokke te raak by die bevordering van gemeenskapsveiligheid.”
Steinberg benadruk dat AfriForum en sy strukture saam met ander veiligheidsrolspelers sal voortgaan om die gemeenskap te dien en veilig te probeer hou.
Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak en -buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.