AfriForum bring hulde aan ontslape Leopold Scholtz
Dit is met groot leedwese wat AfriForum van die afsterwe van die Suid-Afrikaanse skrywer, historikus en politieke ontleder, dr. Leopold Scholtz in Nederland verneem het. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou Ingrid. Sy dood laat ’n leemte op die terrein van Afrikaner-geskiedenis en politieke ontleding wat moeilik gevul kan word.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het hulle paaie die eerste keer met die totstandkoming van AfriForum gekruis. “Destyds was mense skepties oor die rol wat ’n burgerregteorganisasie van dié aard kon speel, maar van meet af aan was Leopold entoesiasties oor die idee. Deur die jare het hy deurlopend met groot belangstelling die vordering van AfriForum dopgehou en ondersteun.”
Van sy belangrikste werk sluit sy navorsing en publikasies oor die Anglo-Boereoorlog, Suid-Afrikaanse Grensoorlog en die ANC se optrede in ballingskap in. “Met ’n naam soos Leopold (volgens hom is hy deur sy vader vernoem na Leopold von Ranke, die vader van moderne geskiedskrywing) kon dit nie anders as dat hy ’n historikus van formaat sou word nie. By verskeie geleenthede het ons die voorreg gehad om boekbekendstellings van hom aan te bied of by te woon, waar sy verstommende kennis oor alle aspekte van die geskiedenis, van oorlogvoering tot ideologie, ’n mens verstom het.”
“Leopold was ’n mens van onkreukbare integriteit met sterk menings wat hom in sommige se oë omstrede gemaak het wanneer dit by politieke ontledings gekom het. Tog was hy nooit kleinlik nie en het hy lewenslank na balans en objektiwiteit in sy meningstukke probeer strewe. Op taalgebied was hy ’n inspirasie met sy keurige taalgebruik. ‘Ek haat vulgariteit,’ was sy reaksie op mense wat hulle taal meng en vloek om effek te probeer kry. Met sy veroordeling van die verengelsing van Afrikaanse onderriginstellings, veral die Universiteit van Stellenbosch, was hy ’n voorspraak vir Afrikaans wat respek afgedwing het. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy sy buitengewone professoraat en navorsingsgenootskap aan die universiteit beëindig het.”
“Persoonlik sal ek hom vir sy humor onthou, sy liefde vir diere en boeke, sy Christenskap en betrokkenheid by hulle gemeente in Schipluiden, sy lojaliteit as vriend en bo alles, sy liefde vir Ingrid. Hy het onderneem om saam met haar in Nederland af te tree omdat sy soveel jare saam met hom in Suid-Afrika gewoon het. Hy het homself ’n emigrant vir liefde genoem. Tog het Nederland diep in sy hart ingekruip en kon hy kinderlik opgewonde raak oor die eerste wintersneeu. Ons sal hom mis,” het Bailey verklaar.