AfriForum Brandweer keer ramp by bekende eetplek in Spitskop
AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het op 25 November spoedig gereageer op inligting van ’n bekende restaurant se grasdak wat aan die brand geslaan het in die Spitskop-omgewing.
Fire Ops SA het omstreeks 16:04 die noodoproep ontvang en was binne twee minute op die toneel. Met hul aankoms het rook en vlamme uit die grasdak geborrel.
Danksy vinnige en doeltreffende kommunikasie en samewerking tussen Fire Ops SA en Mangaung-brandweer, kon die span die verspreiding van die vuur na ander dele van die gebou suksesvol stuit.
“Ons is trots daarop om te sien hoe ons noue samewerking met Mangaung-brandweer ’n verskil gemaak het,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein. “Ons bedank elkeen wat betrokke was by die blus van die brand en verseker het dat verdere skade beperk is.”
Die vinnige reaksie het nie net gehelp om ’n moontlike ramp te voorkom nie, maar ook die impak op die restaurant en omliggende strukture tot die minimum beperk.
AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum herinner die publiek aan die belangrikheid van brandveiligheid en gereelde onderhoud aan grasdakke, veral in warm en droë weerstoestande.
Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag en skep saam hoop. Besoek www.wordlid.co.za.