|

AfriForum Brandweer help om brandende voertuig te blus

AfriForum Brandweer en AfriForum se Wilgehof-buurtwag was op 13 Oktober blitsig op ’n ongelukstoneel in Walter Sisulu-rylaan waar ’n voertuig aan die brand geslaan het. Die Polo-sedan het aan die brand geslaan toe dit ’n boom getref het.

Die noodroep is via WhatsApp-groepe ontvang waarna AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Bloemfontein die nodige rolspelers ontbied het. Danksy die spoedige reaksie en samewerking tussen AfriForum Brandweer, Fire Ops en die Mangaung-brandweer, is die brand suksesvol geblus en die toneel veilig verklaar. VR Med-ambulansdiens het een pasiënt behandel.

AfriForum se Wilgehof-Buurtwag (sektor 3) het ook met die hantering van die ongelukstoneel gehelp. Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is ’n goeie verhouding tussen nooddienste en ander rolspelers van kardinale belang. “Hierdie samewerking verseker die doeltreffende hantering van tonele en die veiligheid van alle betrokkenes. Dit voorkom ook sekondêre ongelukke en beserings,” sluit Groenewald af.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan en help om ons gemeenskap veiliger te maak. Volg die skakel om aan te sluit by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings