|

AfriForum Brandweer blus brandende houthuis in Bloem

AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het verlede week (21 November) gehelp om ’n brand by ’n houthuis in die noordelike voorstede van Bloemfontein te blus. Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n weerligstraal tydens swaar weerstoestande. 

Dié privaatbrandweerdiens het om 16:54 ’n noodroep ontvang en danksy die vinnige reaksie van die operateurs van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) -beheerkamer, is AfriForum Brandweer binne twee minute na die toneel ontbied. Op pad na die brand was daar reeds rook sigbaar vanaf die N1.

Minute later het AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, by die toneel aangekom en broodnodige bystand aan die Mangaung-metro se brandweerdiens gebied, wat reeds besig was om die brand te bestry. Die samewerking tussen die verskillende brandweerdienste het toegesien dat die brand vinnig onder beheer gebring en geblus is voordat dit verder kon versprei. 

“Goeie kommunikasie en uitstekende samewerking is ’n bewys dat nooddienste openbare veiligheid prioritiseer en terselfdertyd suksesvolle uitkomste lewer,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad. 

AfriForum moedig gemeenskappe aan om aktief betrokke te raak by plaaslike veiligheidsinisiatiewe. Sluit vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan om jou gemeenskap te versterk. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings