|

AfriForum Brandweer blus brandende grasdak spoedig

AfriForum Brandweer het op 9 Oktober ’n brandende grasdak in Langenhovenpark spoedig onder beheer gebring en die vlamme geblus. Dié brandweer, in samewerking met Fire Ops, was binne minute op die toneel nadat ’n waarskuwing oor die brand via ’n WhatsApp-groep ontvang is. Deur vinnige radiokommunikasie met AfriForum se gemeenskapsveiligsentrum (GVS) in Bloemfontein, kon die nodige owerhede onmiddellik ontbied word. Danksy hul vinnige reaksie is verdere skade en moontlike gevaar vir omliggende eiendomme voorkom.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, beklemtoon die belangrikheid daarvan om by AfriForum se strukture, wat op die veiligheid en netheid van omgewings fokus, aan te sluit. “AfriForum Brandweer speel ’n onontbeerlike rol in situasies soos dié, waar vinnige optrede die verskil tussen lewe en dood kan beteken of ernstige skade aan eiendom kan voorkom. Dit is danksy hul doeltreffende optrede en noukeurige koördinering dat ons gemeenskappe veiliger is,” sê Groenewald.

AfriForum se GVS in Bloemfontein, wat 24 uur per dag beman word, is die spilpunt van noodreaksie in die gebied. Hierdie beheerkamer is toegerus met ’n goed gevestigde telekommunikasienetwerk wat toelaat dat noodsituasies vinnig hanteer word. AfriForum Brandweer, AfriForum-buurtwagte en die AfriForum 911-reaksie-eenheid word vanuit dié beheerkamer gekoördineer, wat elkeen ’n kritiese rol speel om veiligheid en gereedheid in noodsituasies te verseker.

Lede van AfriForum in Bloemfontein het die voordeel van toegang tot hierdie noodsaaklike dienste, wat gemeenskappe in tye van gevaar beskerm. Lidmaatskap bied toegang tot ’n gemeenskapsnetwerk wat altyd gereed is om in krisistye in te spring. AfriForum Brandweer se vinnige optrede is ’n voorbeeld van hoe vinnige reaksie katastrofes kan voorkom.

Groenewald nooi die publiek uit om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. “Deur saam te werk, bou ons nie net ’n veilige gemeenskap nie, maar ons verseker ook ’n voorspoedige toekoms vir ons kinders en kleinkinders. Dit is deur hierdie strukture dat ons die vryheid en veiligheid van ons gemeenskappe kan bewaar.”

Soortgelyke plasings