| |

AfriForum-brandspan reageer vinnig op verwoestende brand in Kosmos

AfriForum se brandspan, in samewerking met verskeie ander rolspelers, het op 20 Oktober ’n deurslaggewende rol gespeel om ’n verwoestende brand in die Kosmos-woongebied in Hartbeespoort te blus. Die brand het omstreeks 11:30 ontstaan nadat ’n hoop tuinvullis vermoedelik aan die brand gesteek is en uiteindelik agt grasdakhuise vernietig het.

AfriForum se brandspan, bestaande uit 10 toegewyde lede, het saam met brandbestrydingspanne van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa), die Madibeng-brandweer, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Hartbeespoort- Mediese Nooddiens (HEMS) spoedig opgetree om die brand in bedwang te bring. ’n Helikopter is ook ingespan om die brand te help blus.

Die AfriForum-brandspan was omstreeks 12:00 op die toneel en het hard gewerk tot laat om die vure te blus en teen ongeveer 22:00 was die brand uiteindelik in bedwang. Hierdie voorval beklemtoon die belangrikheid van vinnige reaksie en spanwerk tydens rampbestuur.

“Hierdie noodoperasie was ’n fenomenale spanpoging te midde van groot uitdagings. Die samewerking tussen die verskillende dienste het verseker dat die brand nie verder versprei nie,” sê Riaan Britz, AfriForum se buurtwagleier in Hartbeespoort.

“Ek wil graag ons lede en die verskillende brandbestrydingspanne bedank vir hul toewyding en harde werk. Julle pogings het nie net eiendom beskerm nie, maar ook lewens gered,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum sal voortgaan om hom op die veiligheid en beskerming van gemeenskappe toe te spits.

Om hierdie inisiatief te ondersteun, kontak Dennis Webster, voorsitter van AfriForum se Hartbeespoort-tak, by 082 435 5636.

Soortgelyke plasings