|

AfriForum-brandspan help brande in Hartbeespoort blus

Die AfriForum-brandspan in Hartbeespoort het in Julie gehelp om ’n aantal brande in die omgewing te blus. Die brande het op verskillende plekke ontstaan.

’n Brand het op 27 Julie omstreeks 19:15 in die gebou by die Paoli-hondepark uitgebreek. Die AfriForum-brandspan het met drie waterkarre en ses brandbestryders by die toneel opgedaag waar die Hartbeespoort-brandweer reeds besig was om die vuur in bedwang te bring. Die gebou het ongelukkig heeltemal afgebrand.

Op 19 Julie is ’n veldbrand omstreeks 18:30 in Meerhof gerapporteer. Die brandspan het die brand spoedig met twee brandkarre onder beheer gekry. Kort daarna is ’n brand op Melodi-kleinhoewes aangemeld waar ’n houthuis in gevaar was. Dieselfde span het die brand in bedwang gebring voordat dit die houthuis kon bereik. Een hektaar veld is egter afgebrand. Op 11 Julie omstreeks 18:30 het nog ’n brand in Meerhof ontstaan – dié keer tussen huise. Die AfriForum-span is ontbied om te help voorkom dat die brand versprei.

’n Groot veldbrand het op 15 Julie in die vleiland tussen Ifafi en Melodi uitgebreek waar eiendomme, insluitend twee grasdakhuise, in gevaar was. AfriForum se brandspan kon daarin slaag om die huise met een waterkar te beskerm, maar sowat 15 hektaar veld het afgebrand.

AfriForum se Hartbeespoort-brandspan is op 7 Julie omstreeks 21:00 na ’n brand op Zilkaatsnek ontbied. Drie waterkarre en bykans die hele brandspan was op die toneel en het gehelp om ongeveer drie hektaar se veld wat afgebrand het, te blus.

“Dit is van uiterste belang om te help om brande te blus om ons gemeenskappe en eiendom te beskerm. Elke brand wat ons onder beheer bring, voorkom potensiële verlies van lewens en grootskaalse skade,” sê Dennis Webster, voorsitter van AfriForum se Hartbeespoort-tak.

“Ek wil graag al die lede bedank wat gehelp het om die brande te blus. Julle toewyding en harde werk is ’n bewys van die krag van ons gemeenskap. Saam is ons sterker en ek is trots op die samewerking en moed wat hulle getoon het,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum bedank die Hartbeespoort-brandweer vir hul vinnige optrede op 27 Julie en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum se brandbestrydingsinisiatiewe.

Om hierdie inisiatief te ondersteun, kontak Webster by 082 435 5636.

Soortgelyke plasings